

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 March 2006
Die N. G. Kerk se Ring van Louis Trichardt het amptelik standpunt ingeneem teen owerheidsoptrede wat aanleiding is tot strukturele verontmensliking en plaasaanvalle. Die Ring sê die owerheid en ander instansies is gesamentlik aanspreeklik vir elke plaasvaanval en plaasmoord op sy lidmate.
In sy amptelike standpunt sê die Ring van Louis Trichardt die opheffing van een groep mag nooit plaasvind deur die ontmagtiging van ander mense nie. Strukturele verontmensliking wat georganiseerd veroorsaak word deur owerheidswetgewing en korporatiewe besluite, skep ‘n gees wat tot uiting kom in individuele geweld – ‘n gees van brutaliteit en magtigheid wat iets anders is as net gewone misdaad.
Die Ring sê groepsgerigte haat, wat vergelykbaar is met die anti-Semitisme van die Nazi-bewind, gedy in Suid-Afrika weens strukturele geweld, wat aangestig word deur wetgewing waardeur een groep bemagtig word en ‘n kultuur skep waarin ander groepe ontmagtig en verontmenslik word, op dieselfde wyse as in die apartheidsbestel. Die owerhede en instansies wat verantwoordelik is vir hierdie wetgewing en kultuur, is kollektief aanspreeklik vir alle vorme van geweld deur bemagtigdes teenoor ontmagtigdes, met besondere verwysing na die hoë voorkoms van plaasmoorde. Sonder die strukturele geweld sou die gees van persoonlike geweld nooit tot uiting gekom het op die brutale en vernederende wyse waarop dit nou in die openbaar tot uiting kom nie.
Die N.G. Kerk se Ring van Louis Trichardt wys op die aard en omvang van plaasaanvalle op die kerk se lidmate en sê hierdie aanvalle is meer as net gewone misdaad. Die brutaliteit en verminking waarmee hierdie misdaad gepaard gaan, is bedoel om die kerk se lidmate in hul amptelike ontmagtiging te vertoon.
“Die opsigtelike bedoeling (met plaasaanvalle) om te verneder word gedoen vanuit ‘n magsgevoel wat voorgehou en bekragtig word deur die strukturele ontmagtiging van ons lidmate deur die owerheid, maatskappye, geestelike en sosiale instellings en kerke.
“Ons lidmate word deur die owerheid en ander instansies en instellings verontmenslik, deurdat hulle die teiken is teenoor wie bemagtiging plaasvind, as ‘n strukturele en georganiseerde proses: Hulle reg op werksgeleentheid, veiligheid, staatshulp, billikheid en regverdigheid volgens die Grondwet, word ondergeskik gestel aan ‘n proses van bemagtiging wat hulle hul regte ontneem. Aan hierdie verontmenslikingsproses moet hulle hul teenoor die owerheid, gemeenskap en kerke onderwerp as plig.
“Ontmagtiging word ontmensliking deurdat die openbare en doelbewuste ontmagtiging van een groep lei tot die persepsie en feitelike posisie dat die ontmagtigdes nie meer effektief kan aanspraak maak op basiese menseregte nie en dat geweld teenoor hulle op hierdie wyse geregverdig is.
“Dit stel ons lidmate as ontmagtigdes in die openbare gemeenskap. In hierdie insidente of prosesse van ontmagtiging mag en kan hulle nie op staatsbeskerming, regsbeskerming, sosiale ondersteuning of geestelike beskerming aanspraak maak nie, in ‘n klimaat waar die klem val op die bemagtiging van ander sektore in die samelewing.
“Hierdie bedoeling van ontmagtiging is die gemene deler tussen die gemeenskapsinstansies en die individuele misdadigers (soos moordenaars van boere) wat in hul persoonlike geweld die gees van hierdie strukturele ontmagtiging vertoon. Hulle voel geweld teen ons lidmate is geregverdig. Individuele boosdoeners word bekragtig (aangemoedig) deur gemeenskapsinstansies wat ons lidmate sistematies benadeel,” sê die Ring ondermeer.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
