ADVERTISEMENT:

 

Verwarring rondom wapenwet duur steeds voort

 

News  Date: 24 March 2006

 

Vuurwapeneienaars wat voor die einde van vandeesmaand hul aansoeke moet indien, behoort voort te gaan om bevoegdheidsertifikate te bekom, maar kan hul aansoeke tot die laaste nippertjie agterweë hou, hangende groter duidelikheid oor die bepalings van die nuwe konsepwetgewing, sê mnr. Gideon Meiring, voorsitter van die TLU SA Noord se Veiligheidskomitee.

Meiring sê die groot deurmekaarspul oor die hernuwing van wapenlisensies het nou eers erg geword met die aankondiging van konsepwetgewing, waarop kommentaar ingewag word.

“Die hele ding is besig om in ‘n yslike gemorsspul te ontaard.

“Woordvoerders van jagtersverenigings en wapenhandelaars het die jongste aankondiging van nuwe konsepwetgewing om die bestaande wet oor die hernuwing van alle wapenlisensies te vervang, bestempel as ‘n erkenning van die regering dat sy plan om alle wapens te herregistreer klaaglik misluk het. Dit is moontlik ook ‘n welkome oorwinning vir wapeneienaars oor die duidelike oogmerk wat die regering gehad het om wetsgehoorsame burgers te ontwapen.

“Daar is egter nog steeds groot onduidelikheid oor die kwessie van bevoegdheidsertifikate, ook vir bestaande lisensiehouers. Die nuwe wetsontwerp bepaal in sy huidige vorm dat alle vuurwapeneienaars ‘n sertifikaat moet bekom dat hulle bevoeg is om die wapen te hanteer.

“Die yslike beslommernis en hoë koste verbonde aan die verkryging van so ‘n sertifikaat was juis een van die hoofbesware teen die hernuwingsproses. As daar voortgegaan word met die bepaling dat sertifikate deur almal verkry moet word, gaan dit steeds ‘n yslike administratiewe rompslomp en chaos afgee,” sê Meiring.

Meiring sê daar heers ook groot verwarring of wapeneienaars wat voor die einde van verlede jaar hernuwingsaansoeke moes indien, maar toe drie maande uitstel gekry het tot die einde van vandeesmaand, moet voorgaan met die aansoeke, ondanks die beoogde wysiging wat dalk eers later behoorlik wet sal word. Hy sê dit is dringend nodig dat die regering die verwarring oor hierdie aspek opklaar deur aan te kondig dat geen aansoeke gedoen hoef te word alvorens die nuwe wet van toepassing is nie.

“Eweneens is daar onsekerheid of mense wat uit frustrasie oor die rompslomp met hernuwingsaansoeke hul wapens ingehandig het vir vernietiging, eise teen die staat kan instel, veral in die lig van die misleidende uitsprake en openbare dreigemente deur gesagsowerhede dat mense gevang en toegesluit kan word as hulle nie hernuwingsaansoeke indien of hul wapens inhandig nie.

“Te midde van al hierdie onduidelikhede en onsekerhede wonder die wapeneienaar wat nog nie ‘n aansoek ingedien het nie, wat hom of haar nou te doen staan. Hopelik kom daar gou duidelikheid, maar ondertussen kan dit diegene wat voor die einde van Maart aansoeke moet indien, baat om maar bevoegdheidsertifikate te bekom,” sê Meiring. “Wat wel verwag word, is dat baie strawwer vereistes en voorwaardes gestel gaan word vir enige nuwe aansoeke om wapenlisensies. Dit geld blykbaar selfs vir versamelaars van antieke gewere of replikas daarvan, wat onder die nuwe wetgewing as volle wapens beskou gaan word, al kan hulle nie eers ’n skoot afvuur nie,” voeg Meiring by.

Meiring sê daar is moontlik ‘n bietjie lig in die tonnel, maar wapeneienaars het beslis nog nie die burokratiese oorlog teen die regering gewen nie. Die TLU SA, SAGA en BGOASA (Black Gun Owners Association SA) het deurgaans hand en tand baklei en standpunt ingeneem teen die omstrede wapenwetgewing. ‘n Belangrike beswaar was teen “die blatante aantasting van eiendomsreg” en veral in die lig van die abnormaal hoë misdaadvlakke.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines