

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 March 2006
Die polisie by die Beitbrug-grenspos het drie mans in hegtenis geneem op ‘n aanklag van omkopery en nog een in verband met die smokkel van Zimbabwiese sigarette met ‘n waarde van R2,5 miljoen.
Luidens ‘n verklaring deur die area kommissaris van die polisie op Thohoyandou het die polisie gereageer op ‘n wenk deur lede van die gemeenskap in verband met ‘n internasionale vragwa wat onderweg was van Zimbabwe na Suid-Afrika met ‘n groot vrag sigarette aan boord. Die polisie het die vragmotor dopgehou totdat dit deur die grensbeheerpunt beweeg het. Die vragmotor is verlede Vrydag nagenoeg agt kilometer buite Musina deur die polisie voorgekeer om sy vragverklaringsbewys te inspekteer.
Terwyl die polisie in gesprek was met die bestuurder van die vragmotor, wat hulle daarop gewys het dat die goedere op sy vragmotor verseël was, het drie ander mans glo in ‘n sedan voertuig opgedaag en die polisiemanne na bewering R40 000 kontant en 210 Amerikaanse dollars aangebied om die voertuig met sy vrag vry te laat.
Volgens die verklaring het die polisiemanne toe gemaak of hulle die aanbod aanvaar en die mans teruggelok na die grenspos onder die voorwendsel dat hulle daar die nodige papierwerk sou afhandel om die vragmotor en sy vrag deur te laat.
Met die hulp van ander lede van die polisiediens is die drie mans toe in hegtenis geneem op ‘n aanklag van omkopery. Twee van hulle is Suid-Afrikaners en een ‘n Zimbabwiër.
Die polisie het gevolglik die 31-jarige vragmotorbestuurder, wat ‘n Zimbabwiese burger is, opdrag gegee om die verseëlde houers op die vragmotor oop te maak. Die houers was vol Zimbabwiese sigarette. Die vragmotorbestuurder is toe in hegtenis geneem op ‘n klag van smokkelary. Al vier mans sou vandeesweek in die hof verskyn het.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
