

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 March 2006
Die moontlikheid van grootskaalse bedrog en korrupsie in die kantoor van die Grondeise Kommissaris in Limpopo behoort dringend ondersoek te word. Alle grondeise in Limpopo moet vir moontlike bedrog en korrupsie herondersoek te word. Dit is die siening van die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, wat met skok ernstige kommer uitgespreek het oor berigte dat 71 plase in die Limpopo Provinsie “heronteien” gaan word weens die grootskeepse mislukking van grondherverdeling in die provinsie. Luidens mediaberigte gaan 71 plase in die provinsie heronteien word, omdat die plase onsuksesvol bewerk en bestuur word. Inmiddels is ook aangekondig dat ondersoek ingestel word na gerugte dat van die plase op onregmatige wyse deur fiktiewe eise bekom is deur individue en groeperings wat bloot finansiële voordeel daaruit wou trek. Die TLU SA Noord het in ‘n brief aan die LUR vir Landbou ook kommer uitgespreek oor die omstandighede waaronder die plase bloot deur die regering “teruggeneem” gaan word. Dit beteken die plase gaan maar net deel word van die reeds duisende hektare bruikbare landbougrond wat nog steeds in staatsbesit is. In die meeste gevalle is dit hoëpotensiaal landbougrond wat geen buitelandse valuta verdien nie en geen bydrae maak tot ‘n volhoubare ekonomie of tot werkskepping nie. Baie kosbare werksgeleenthede het daardeur verlore gegaan sodat gemeenskappe nog verder verarm het. Oor berigte dat die Grondeise Kommissaris aangedui het dat ondersoek nou ingestel word na die moontlikheid dat van die grond onregmatig deur eisers bekom is, sê Joubert as die mediaberigte korrek is, dui dit daarop dat die Kantoor van die Grondeise Kommissaris nie die feite, navorsing en verklarings van eisers behoorlik nagegaan het nie en dat die staat en die belastingbetalers gruwelik bedrieg is. Sulke optrede kom neer op blatante bedrog en korrupsie. Die TLU SA Noord dring daarop aan dat, indien die berigte korrek is, kriminele klagtes teen die betrokke amptenare en eisers ondersoek moet word en dat die betrokke amptenare onmiddellik geskors moet word, hangende die kriminele ondersoek. Joubert sê die TLU SA Noord beskou die saak as uiters dringend. Hy sê indien die berigte korrek is, onderstreep dit die klagtes in verband met administratiewe probleme in die kantoor van die Grondeise Kommissaris en verhoog dit die wantroue en persepsie dat amptenare in die kantoor van die Grondeise Kommissaris nie bevoeg is nie. Hy sê grondeienaars en grondeisers het al verskeie kere gevra dat die Grondeise Kommissaris vervang word. Dit is nou tyd dat beslissend opgetree word en alle eise in Limpopo vir bedrog en korrupsie ondersoek moet word.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
