

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 March 2006
Die Venda-spreekwoord “As jy die krag van God wil sien, dan moet jy arm mense beledig” is die afgelope naweek aangehaal tydens die vertraagde begrafnis van die sewejarige seuntjie, Mulweli Nemadandila, in die behoeftige Manamani-gemeenskap. Hy is vermoedelik ‘n slagoffer van ‘n muti-moord. Ernstige bedenkinge en openlike verontwaardiging oor die Thohoyandou polisie se hantering van die saak het tydens die begrafnis na vore gekom. Vrae oor opvallende leemtes in die verslag van die aanvanklike lykskouing, hang ook nog in die lug. Verwarring, teleurstelling, frustrasie en woede was duidelik sigbaar by die begrafnisgangers. Daar is na bewering meer as 40 onopgeloste mutimoorde in die Vhembe Distrik. Duisende mense het die emosiebelaaide begrafnis van die kind bygewoon. Sy lyk het vir bykans ‘n maand lank in die lykshuis gelê. Lede van die gemeenskap het aanvanklik geweier om hom te begrawe, voordat die werklike oorsaak van sy dood vasgestel is. Die Thohoyandou polisie en die staatspatoloog se aanvaarding dat hy bloot verdrink het, is met woede deur die gemeenskap verwerp. Mulweli was vermoedelik die slagoffer van ‘n muti-moord op Manamani, digby Thohoyandou. Die seuntjie se liggaam is op 25 Februarie in ‘n rivier aangetref, nadat hy die vorige dag weggeraak het. Lede van die plaaslike gemeenskap was oortuig daarvan dat hy die slagoffer van ‘n muti-moord was, aangesien verskeie liggaamsdele insluitende, sy lippe, ‘n ooglid en sy testikels verwyder was. Die polisie op Thohoyandou het ‘n geregtelike nadoodse ondersoek geopen, maar niemand is in hegtenis geneem nie. Gemeenskapsleiers sê die polisie sleep hulle voete, ignoreer opvallende getuienis en weier om met lede van die gemeenskap saam te werk. Amptelike bewerings, dat die skending van die kind se lyk deur visse in die rivier veroorsaak is, is deur gemeenskapslede met minagting verwerp. In die verslag van die eerste lykskouing deur die staatspatoloog by Tshilidzini Hospitaal op 2 Maart, word geen spesifieke oorsaak vir die dood van die kind aangegee nie, maar die moontlikheid van dood weens verdrinking is nie uitgesluit nie. Woedende inwoners van Manamani het die uitslag verwerp en beweer dat daar met die verslag gepeuter is. Hulle het R10 per gesin in die verarmde gemeenskap ingesamel om die dienste van ‘n private patoloog te bekom vir ‘n tweede mening. Die onanfhanklike patoloog het ter elfder ure aan die ondersoek onttrek. Verlede Donderdag is in ‘n tweede lykskouing in Pretoria bevind dat Mulweli inderdaad gewelddadig aan sy einde gekom het. Dit verwerp verdrinking as ‘n moontlike oorsaak van dood en dui aan dat die kind reeds dood was toe hy in die water gegooi is. Daar is duidelike ernstige beserings aan sy voorkop, rug en elders aan sy lyf. Dié formele bevinding strook met inligting wat vroeër deur plaaslike geestelike leiers in ‘n verslag aan die nasionale vervolgingsgesag deurgestuur is. Die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit, me. Machwene Semenya, het vroeër vandeesmaand ‘n besoek aan die gemeenskap gebring in ‘n poging om gemoedere te laat bedaar. Sy het toe onderneem om die polisie-ondersoek van Thohoyandou oor te plaas na ‘n deskundige span in Polokwane. Die nuwe uitvoerende burgemeester van die Vhembe Distriksmunisipaliteit, Irene Mutsila, het by die begrafnis gesê die moordenaars van die kind het seker gedink hulle kan wegkom daarmee omdat hy ‘n lid is van ‘n behoeftige gesin. Sy het die Venda-spreekwoord aangehaal en die gemeenskap lof toegeswaai vir die eendragtige optrede waarmee hulle volhard het totdat die oorsaak van die kind se dood finaal bo alle twyfel vasgestel is. Sy het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om nou geduldig te wees en die verdere verloop van die saak in die hande van die regstelsel oor te laat. ‘n Senior segsman vir die Departement van Veiligheid en Sekuriteit, Makgothi Thobakgale, het gesê dit is die departement se verantwoordelikheid om toe te sien dat die polisie hul werk ordentlik doen en in hierdie geval sal geen steen onaangeroer gelaat word nie. “As departement is ons glad nie gelukkig met dit wat besig is om te gebeur nie, maar met die samewerking van die gemeenskap kan ons maklik hierdie oorlog teen misdaad en veral teen rituele moorde en die mishandeling van vroue en kinders wen,” het Thobakgale gesê. ‘n Verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, deken Alunmutwe Rannditsheni sê geestelike leiers is ernstig bekommerd oor die groot getal onopgeloste gevalle van rituele moorde in Vhembe. “Die polisie ontvang inligting, maar doen niks om die skuldiges aan te keer nie. Ons sal ons dag en nag daarvoor beywer om seker te maak dat alle rituele moordenaars uit ons samelewing verwyder word. Mulweli se bloed roep uit en almal wat aandadig is aan sy moord sal nooit vrede gedurende hul leeftyd geniet nie. Die lewe is ‘n godgegewe geskenk, maar onredelike wreedaards dink dat hulle ryk kan word deur menslike liggamsdele. Hulle moet leer om hard te werk om ryk te word.” Die hoof van Manamani Laerskool, mnr. Nkumeleni Tshivenga, het gesê Mulweli was ‘n Graad 2 leerder aan die skool. “Al kom hy uit ‘n arm gesin, was hy ‘n skrander leerling wat sekerlik eendag ‘n verskil ten goede aan sy gesin se omstandighede kon maak. Al ons leerders is deur die voorval getraumatiseer en dit benadeel die leerproses by ons skool. As skool is ons diep seergemaak omdat ons ‘n belowende lid van ons groter familie verloor het.” ‘n Woordvoerder van die Nemadandila gesin het gesê: “Ons voel swak, verward en gefrustreerd oor wat gebeur het. Ons sal ons seun vir altyd onthou en ons sal nooit, ooit stilbly nie totdat die moordenaars van ons kind in hegtenis geneem en aangekla is nie.” Superintendent Alwei Mushavhanamadi van die Vhembe-polisie het vandeesweek gesê sy kantoor het nog nie die verslag van die tweede lykskouing ontvang nie. “Sodra ons dit ontvang, sal ons die ondersoek hervat. ‘n Geregtelike doodsondersoek sal onderneem word en albei partye wat by die eerste en tweede lykskouing betrokke was, sal getuienis moet lewer, voordat ons ons ondersoek hervat,” het hy gesê.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
