ADVERTISEMENT:

 

Boere optimisties na goeie reënneerslae

 

News  Date: 31 March 2006

 

Die deurdringende reën word beskryf as louter vreugde en plesier en strome van seën. Mnr. Dries Joubert, streeksvoorsitter van TLU SA-Noord, sê dat dit ‘n vreugde en plesier is om oral die pragtige veld en weiding en vet diere te sien. “Dis sommer net goed! Die landbou lyk rooskleurig,” sê Joubert. Plekke wes van Alldays wat vroeër afgeskeep was met die reën, het nou goed baat gevind by die welkome neerslae. Op Levubu is daar net in die oggendure van Dinsdag, 28 Maart, tussen 30mm en 50mm reën gemeet. “Sowat ‘n week gelede het Levubu tussen 100mm en 230mm gehad. Die paaie het hier en daar ‘n bietjie verspoel, maar daar is nie regtig skade aan gewasse nie,” sê Joubert. Mnr. Gideon Meiring, distriksvoorsitter van die Soutpansberg DLU, het aan die streeksvoorsitter berig dat daar Dinsdagoggend tussen 35mm en 40mm op Waterpoort gemeet is. “Ons sien uit na volgende seisoen omdat die ondergrondse watertafel goed aangevul is. Ons verwag ‘n baie mooi lente in teenstelling met verlede jaar se lente met die droë ondergrondse watertafel,” sê Joubert. In Louis Trichardt het die Makhado Munisipaliteit se reënmeter tussen 1 en 11 Maart reeds 53.6mm gemeet. Die volgende aantekening was op 28 Maart, toe 48.4mm gemeet is. Dit bring die totale reënval by hierdie meter aangeteken op 102mm te staan. Met die goeie reëns is alle damme ook goed aangevul. Die Albasinidam staan op meer as 55%. Dié dam het in een week vanaf 51.8% gestyg tot 55.4%, nadat 147mm reën in die opvangsarea aangeteken is. Die dam se vlak in meters is nou 15.03m. Die Nandonidam het amper 10% gestyg vanaf 63.9% op 20 Maart tot 72.6% op 27 Maart. Daar is 84mm reën gemeet. Die Tshakhumadam, wat twee weke gelede begin oorloop het, loop steeds oor. Die Vondodam loop steeds oor, hoewel die vlak effens gedaal het. Twee damme wat vir die afgelope maand al oorloop, is die Luphephe- en Nwanedidamme, twee damme wat ses weke gelede nog onderskeidelik op 46% en 62% gestaan het. Die Nzheleledam het die afgelope week gestyg vanaf 92.3% op 20 Maart tot 98.31% op 27 Maart. Die Mutshedzidam staan op 101.44%.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines