

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 March 2006
Eienaars van landbougrond in Limpopo is vandeesweek versoek om in landsbelang nie te swig voor intimidasie en gerugte nie en alles moontlik te doen om hul lewensbelangrike roeping voort te sit. “Limpopo se boere voeg jaarliks miljarde rande toe tot die provinsie se ekonomie, skep duisende werksgeleenthede en beskik oor kennis en ervaring wat onontbeerlik is vir opkomende swart boere en vir die volgehoue stimulasie en groei van die provinsie se ekonomie. Grondeienaars moet nou waak daarteen om weens intimidasie ontsenu te raak en onder druk met onrealistiese en aanloklike aanbiedings oorreed te word om van hul grond ontslae te raak”. Hierdie onvervangbare belangrikheid van landbougrondeienaars as steunpilare van die plaaslike ekonomie is uitgelig op ‘n vergadering wat vandeesweek op Mopanie gehou is. Op 27 Maart, ten tye van ‘n vergadering rakende die gevare van grondonteiening en restitusie-eise, is daar menings gelug oor hoe om grondeienaars en die publiek ‘n beter perspektief op die huidige situasie te gee. Die vergadering is bygewoon deur verskeie praktiserende prokureurs, landbouers en ander belanghebbendes. Een groot probleem wat geïdentifiseer is, is die gevaar van gerugte wat grondeienaars ontsenu en vatbaar maak vir intimidasie en oorreding om van hul grond ontslae te raak. Die vergadering was dit eens dat hierdie proses vergemaklik word deur mense wat willens en wetens en in eie belang grondeienaars oorreed om hul grond aan te bied teen beloofde hoë pryse – wat feitlik nooit realiseer nie. Boere met ‘n grondwaarde van R3miljoen kan tot R2,3 miljoen verloor ten opsigte van groei, belastings en agente-kommissie. In die intimidasieproses word gesinspeel dat onteiening die volgende stap is – dat ‘n byna Zimbabwe-tipe benadering onafwendbaar is. ‘n Ander probleem wat geïdentifiseer is, is die afwesigheid van doeltreffende beplanning. Die vergadering was eenstemmig dat hierdie planloosheid nie net sleg is vir die plaaslike ekonomie nie, maar ook maatskaplik vernietigend is en baie nadelig is vir die Limpopo Provinsie, wat gereed is om “ontdek” te word. Deur die sowat 2 900 boere in Limpopo word 110 000 werksgeleenthede vir plaasarbeiders geskep. Die boere voeg onregstreeks jaarliks ook R34miljard toe tot die streek se ekonomie. Hierdie boere sowel as hulle werknemers se ervaring en kennis is van onskatbare waarde vir toekomstige en opkomende swart boere en ter stimulasie en groei in die streek. Dit moet gesien word teen die agtergrond van die land se uitstekende grondwet (indien toegepas) waarin eiendomsreg beskerm word ingevolge internasionale norme. Groot eenstemmigheid het bestaan oor die dorp Louis Trichardt se medium- en langtermyn lewensvatbaarheid indien grondeienaars soos die spreekwoordelike dominos die een na die ander sou val.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
