ADVERTISEMENT:

 

Boere moet belangrikheid van eiendomsbelasting onthou

 

News  Date: 03 March 2017

 

Die TLU SA Noord het landbouers in Limpopo herinner aan hul verantwoordelikheid om eiendomsbelasting te betaal.

Wet 6 van 2004 onder die titel Municipal Property Rates Act het in 2008 in werking gekom en in ooreenstemming met die Grondwet se Artikel 229 word ’n verpligting geplaas op alle grondeienaars van landbougrond om belasting te betaal. “Soos dorpsbewoners aan die plaaslike munisipaliteit grond- of eiendomsbelasting moet betaal, moet eienaars van landbougrond ook eiendomsbelasting, volgens die waardasie van die eiendom deur die plaaslike owerheid, betaal. Dit het niks met basiese dienste wat plaaslike owerhede lewer te doen nie, dit is nie ’n heffing of ’n rekening vir dienste gelewer nie, dit is ’n belasting,” het die TLU SA Noord in ‘n persverklaring verduidelik.

Die TLU SA Noord het daarop gewys dat belastingskuld nie na drie jaar verjaar soos ander skuld nie, maar eers na 30 jaar. “Wanneer ‘n eienaar van landbougrond daardie grond, op watter wyse ook al, wil vervreem, hetsy dit te wil verkoop of te laat vererf, moet die agterstallige belasting eers aan die plaaslike owerheid betaal word, met rente op agterstallige skuld, voor ’n uitklaringsertifikaat uitgereik sal word ten einde die transaksie af te sluit. Oordrag kan nie plaasvind sonder hierdie uitklaringsertifikaat nie,” het die TLU SA Noord gewaarsku.

Volgens die TLU SA Noord is baie min landbougrondeienaars bewus daarvan dat hulle hierdie belasting aan die plaaslike owerheid verskuldig is, omdat hulle nie rekeninge van die plaaslike owerheid ontvang nie. Ten spyte van die feit dat ‘n verpligting op die munisipaliteit geplaas word om rekeninge uit te stuur, het die TLU SA Noord gesê, bepaal die wet egter ook dat die grondeienaar wat nie ’n rekening ontvang nie, sy verpligting van betaling moet besef en navraag moet doen oor die aangeleentheid by sy plaaslike munisipaliteit. “Die onus berus dus op die grondeienaar om sy rekening by die owerheid te bekom en dit betyds te betaal. Die plaaslike owerhede is dan ook by magte om die agterstallige belasting in te vorder op enige wetlike manier. Hulle kan dagvaardings teen jou uitreik en die normale skuldinvorderingsprosesse gebruik,” het die TLU SA Noord gesê.

TLU SA het namens hulle lede met verskeie plaaslike owerhede onderhandel om agterstallige skuld af te skryf en om kortings op die belasting te probeer beding binne die wetlike raamwerk wat daargestel is. Onderhandelinge is suksesvol afgehandel met verskeie owerhede en is hierdie voordeel wat beding was nie net vir TLU SA lede beding nie maar vir alle grondeienaars, selfs die eienaars van sommige dorpseiendomme soos Mogwadi (Dendron) in die  Limpopo Provinsie en in die munisipale gebied van die nuutsaamgestelde munisipaliteit met die samevoeging van Modimolle (Nylstroom)  en Mookgophong (Naboomspruit). Vir meer inligting hieroor kan Wilma by die TLU SA Noordstreek se kantoor per e-pos gekontak word by [email protected].

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines