

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 August 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – André Engelbrecht, medebeskuldigde in die opspraakwekkende Louis Trichardt Finance piramideskema saak, is onlangs skuldig bevind aan oortredings van die Bankwet en die Wet op Skadelike Sakepraktyke.
Engelbrecht is op 2 Maart in Pretoria gevonnis tot ‘n boete van R30 000 of twaalf maande gevangenisstraf vir bedrywighede wat plaasgevind het by Louis Trichardt Finance BK (in likwidasie). Engelbrecht is saam met Annetjie Coetzee aangekla in die polisie se ondersoek na die kriminele bedrywighede van Louis Trichardt Finance.
Coetzee is op 12 Januarie vanjaar gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf of ‘n R60 000 boete betaalbaar teen R1 000 per maand, ook vir oortredings van die Bankwet en die Wet op Skadelike Sakepraktyke.
Meer as 120 beleggers het ‘n gesamentlike bedrag van ongeveer R8 miljoen by Louis Trichardt Finance belê. Prominente sakemanne, boere, oud-bankbestuurders, onderwysers, professionele persone, pensionarisse, weduwees en kinders, hoofsaaklik van die Louis Trichardt omgewing, het geld verloor in hierdie piramideskema.
Buiten die onwettige piramideskema by Louis Trichardt Finance, het Engelbrecht vermoedelik dieselfde modus operandi gevolg in die bedryf van Sinku Finance (BK). ‘n Bedrag van sowat R3 miljoen is ter sprake by Sinku Finance. Beleggings is ingeneem vir ‘n mikrouitleningsonderneming. Die geld van beleggers is vermoedelik gebruik om ander beleggers se rente te betaal. Engelbrecht is nog nie daarvoor aangekla nie. Persone wat beleggings gedoen het by Sinko Finance (BK) kan klagtes lê by die SAPD vir oortredings van Art 11(1) van Wet 94/1990 (die Bankwet) en Art 12(7) van Wet 71/1998 (die Wet op skadelike sakepraktyke).
Na bewering het Engelbrecht het ook lenings in sy persoonlike hoedanigheid aangegaan met mense in die omgewing, terwyl hy ‘n ongerehabiliteerde insolvent was. Hy het nie die persoon ingelig omtrent sy insolvente status nie, wat ‘n kriminele oortreding van die insolvensiewet beteken.
Van die beleggers van Louis Trichardt Finance het hulle misnoeë uitgespreek oor die slakkepas van die verloop van die insolvensie en kriminele ondersoeke na die bedrywighede van Engelbrecht en Coetzee. Die insolvensie ondersoek is na drie jaar nog nie afgehandel nie. Voordat die insolvensie verslag nie afgehandel is nie, kan verdere klagtes nie gelê word nie. Die staatsaanklaer, me. Ilse Grobler, het gesê dat beide Engelbrecht en Coetzee ook moontlik aangekla kan word vir oortredings van die Insolvensiewet, maar dat die insolvensie ondersoek eers afgehandel moet wees.
Die insolvensie ondersoek het die beleggers duisende rande uit die sak gejaag, aangesien daar geen fondse in Louis Trichardt Finance BK tydens likwidasie was nie. Louis Trichardt Finance BK is op 6 Maart 2001 gelikwideer.
Die likwidateurs, Corporate Liquidaters (Pty) Ltd, het tot op datum nagelaat om hulle werk af te handel. Volgens mnr. Deon Botha van Corporate Liquidaters is die likwidateurs besig met invordering van debiteure. Hulle het nie geld vir litigasie nie. Verder dui hulle aan dat hulle wag vir die verslag van die kommissaris, wat voorgesit het by die plaaslike insolvensieondersoek. Die verslag is na drie jaar nog nie deur die Likwidateurs ontvang nie. In die verslag kan daar onder andere aangedui word of daar enige kriminele oortredings plaasgevind het.
Die vonnis van Engelbrecht het dieselfde reaksie uitgelok as die vonnis van Coetzee. “Heeltemal te lig,” het baie van die beleggers opgemerk. In Mei vanjaar het die hoërhof in Thohoyandou vir Frank Kwezi 20 jaar gevangenisstraf opgelê, terwyl Dorcas en Butyi Pitso beide vier jaar gevangenisstraf ontvang het vir ‘n piramideskema genaamd Kopanang/Tanganani Helping Society in Thohoyandou. Die bedrag wat daar ter sprake was, was R4 miljoen.
Engelbrecht het intussen die dorp verlaat en hom vermoedelik in Midrand gevestig.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
