ADVERTISEMENT:

 

Mev. Rita Swart by die diefwering waar die skurk ingekom het. Haar twee hondjies het dapper probeer om alarm te maak. Hoewel sy doelbewus kalm gebly het tydens die hele voorval, beskryf sy dit as ‘n skokkende ervaring en waarsku sy ander inwoners om op hul hoede te wees en verkieslik vensters snags dig toe te hou, selfs al is daar diefwering voor.

Vrou vertel van skrikervaring met inbreker

 

News  Date: 07 April 2006

 

“Mense behoort maar liewers met toe vensters te slaap, terwille van hul veiligheid,” sê mev. Rita Swart nadat sy vroeg Woensdagoggend deur ‘n gewapende inbreker in haar huis verras is.

Die inbreker het omstreeks 05:30 toegang tot die huis gekry deur die diefwering voor ‘n slaapkamervenster weg te breek. “As die venster toe was, sou die brekende ruitglas minstens ‘n vroeë waarskuwing gewees het,” sê mev. Swart, wat alleen tuis was ten tye van die skokvoorval.

“Die honde het my vroegoggend wakker geblaf, maar ek het aanvanklik gedink hulle blaf vir rondloperhonde buite.” Sy het die kamer se ligte aangeskakel, maar niks bemerk nie. Die honde het egter by die spaarkamerdeur gestaan en na die venster gekyk, terwyl hulle al ernstiger begin blaf het. “Ek was op pad om by die agterdeur uit te gaan om te gaan ondersoek instel en onderweg het ek my dogter gebel. Daar was nie onmiddellik antwoord nie en ek het die gehoorbuis van die mik af op die tafel neergesit, toe ek iemand in die huis hoor praat het. Die inbreker het in die gang gestaan, ‘n vuurwapen op haar gerig en gevra: “Where is the money?”

Sy het gesê haar geld is in haar handsak, maar sy kon nie daarin slaag om haar handsak te vind nie. Die dief het ongeduldig geraak, die vuurwapen op haar gerig en die sneller drie keer getrek, terwyl hy bars beveel het: “Be quick.” Hoewel hy die sneller getrek het, het geen skoot afgegaan nie. “Ek het net gehoor die wapen maak ‘kliek-kliek-kliek.’”

Toe hy die gehoorstuk van die telefoon sien wat van die mikkie af lê, wou hy weet van die foon. Sy het gesê dat sy gebel het maar nie kon deurkom nie. Die dief het egter skielik tekens van paniek getoon en haastig teruggekeer na die venster waarvan hy die diefwering verwyder het, en verdwyn. Hy is vermoedelik oor die heining.

Mev. Swart se dogter, mev. Anriëtte Knoetze, het egter intussen die telefoon beantwoord en oor die telefoon gehoor dat daar iemand by haar ma in die huis is. Sy het dadelik alarm gemaak en mnr. Franna Knoetze het na die toneel gehaas.

Met hul aankoms was die dief egter alreeds weg.

Onmiddellik nadat die dief deur die venster verdwyn het, het mev. Swart haar na die bediende se kamer gehaas en toe die polisie gebel. “Hulle het vinnig reageer, maar daar was geen spoor van die dief nie.”

Sy beskryf die inbreker as middelmatig, kort, baie netjies met kort hare en ‘n effens ligterige velkleur.

Volgens die polisie pas die beskrywing ‘n inbreker wat al ‘n geruime tyd baie aktief in die sentrale woongebied op die dorp bedrywig is. Sy werkswyse is ook dieselfde. Hy forseer die diefwering weg voor ‘n venster en verras die inwoners op die wyse. Hy was egter nog nooit voorheen gewapen nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines