

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 April 2006
Die voortgesette onwettige staking van bewaarders by die Kutama/Sinthumule gevangenis by Makhado (Louis Trichardt) is volkome onder beheer en al die nodige voorkomende maatreëls is getref om ‘n herhaling van die onlangse geweldpleging by die gevangenis te verhoed. Die bestuur is bedag daarop om riskante optrede en moontlike gyselaarsituasies te voorkom.
Mnr. Stephen Korabie, die besturende direkteur van South African Custodial Management (SACM), die private onderneming wat die gevangenis bestuur, sê die gemeenskap kan verseker wees van voortgesette veiligheid en sekuriteit by die gevangenis. Alles by die gevangenis verloop reg, met bykomende hulp wat ingebring is. Hy sê die daaglikse bedrywighede by die gevangenis verloop op die oomblik selfs beter as ooit tevore. Mnr. Korabie het waardering uitgspreek vir die baie ondersteuning wat die bestuur vanuit die gemeenskap ontvang.
Op ‘n vraag het hy bevestig dat die belhamels van die massa-geweldpleging van 28 Februarie vanjaar, waarin miljoene rande se skade by die gevangenis aangerig is, na afloop van die insident na ander sentrums in die land verwyder is.
Mnr. Korabie het vandeesweek in ‘n onderhoud bevestig dat regsoptrede beoog word teen die bewaarders wat onregstreeks vir die insident verantwoordelik was, deurdat hulle die selle van gevaarlike gevangenes oopgesluit het en toe uitgestap het vir ‘n onwettige staking. Bewakingsdienste by gevangenisse word volgens wet beskryf as ‘n “essensiële diens” waarin stakings uitdruklik nie toegelaat word nie. Alternatiewe griewe-prosedures is in plek.
Hy sê die nodige dissiplinêre optrede ten opsigte van bewaarders wat hulleself aan onwettige stakings skuldig maak, is nou aan die gang.
Mnr. Korabie sê die huidige staking is oënskynlik die gevolg van onenigheid tussen die bewaarders en die vakbondbestuur wat namens hulle moes onderhandel. Die onderhandelings oor salarisverhogings is met welslae afgehandel. Die gevraagde 8% verhoging is toegestaan plus ‘n bykomende 7% regstellende aanpassing vir korrektiewe beamptes.
Die onderhandelings in verband met gevaar- en ander toelaes het ‘n dooiepunt bereik en is vewys vir arbitrasie. Mnr. Korabie het ontken dat hierdie toelaes in 2002 deur bestuur belowe is.
Hy sê met die beoogde onlangse terugvoervergadering het dit duidelik geblyk dat daar onenigheid tussen lede van die vakbond en die vakbondbestuur is oor die aard en uitslag van die onderhandelings. ‘n Uitstappery uit vergaderings het die aangeleentheid verder bemoeilik.
Mnr. Korabie het bevestig dat regstappe voortgesit sal word ter wille van orde. ‘n Hofbevel is die afgelope week bekom om stakende bewaarders te verbied om ander personeel te intimideer. Hy het ook bevestig dat die nodige stukke opgestel is vir ‘n dissiplinêre verhoor teen 223 bewaarders wat hulle aan onwettige staking skuldig gemaak het. Die betrokkenes het egter geweier om die stukke in ontvangs te neem. “Ons het begin om die inligting te versprei. Die dissiplinêre verhoor is gereël vir Vrydag (7 April).”
Die SAPD is deurentyd aanwesig op die terrein waar die stakende bewaarders betoog en die beskermingsdienste is op ‘n gereedheidsgrondslag, het mnr. Korabie gesê. Hy het daarop gewys dat die prosesse binne die gevangenis ordelik verloop. “Die afgelope vier dae is nie een insident in die gevangenis aangemeld nie. Dit is die langste insidentvrye tyd ooit sedert die ontstaan van die gevangenis.”
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
