

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 April 2006
Jeanette Craig, oudleerling van Hoërskool Louis Trichardt, het reeds vier grade agter haar naam ingeryg en waardevolle navorsing oor die siekte fibromialgie, ‘n chroniese pynsindroom, gedoen.
‘n Meestersgraad in fisiologie aan die Universiteit van Pretoria is in November 2005 aan Jeanette toegeken en sy ontvang ‘n Honneurs-graad in Sielkunde in April vanjaar. Die BSc en BSc Honneursgrade het sy onderskeidelik in 2001 en 2002 ontvang.
Jeanette se verhandeling is getiteld ‘n Psigoneurologiese profiel vir fibromialgie. Pasiënte wat aan fibromialgie (FM) ly, gaan chronies gebuk onder pyn, moegheid en ‘n lang lys ander simptome. Jeanette het wetenskaplik bewys dat die pasiënte wat aan hierdie psigosomatiese siekte ly, se fisiese simptome werklik is. Sy het ook bepaal watter sielkundige faktore betrokke is. Sy het bevind dat FM pasiënte ‘n baie bepaalde psigoneurologiese profiel vertoon.
Die navorsing is ook waardevol vir gesonde mense, want baie mense gaan gebuk onder "hoofpyne en pyne in die skouers, nek en rug en streskwesbaarheid. Hierdie simptome het ook algemeen by my kontrolegroep voorgekom, maar baie erg by die FM pasiënte,” sê Jeanette.
FM pasiënte beleef dat hulle lewens vol negatiewe gebeure is. Hulle het nie sekuriteit beleef in hulle eerste lewensjaar nie. Hulle vertoon ‘n hoë emosionaliteit en verkies ‘n sogenaamde regterbrein denkstyl wat stres op‘n emosionele manier hanteer. Hulle neem op ‘n emosionele wyse besluite, eerder as op ‘n logiese, analitiese wyse. Hulle ondervind baie pyn in die spiere en skelet wat nie op medikasie reageer nie, asook moegheid, slaapversteurings, oomblikke van geheueverlies, depressie en angstigheid. Die liggaam se outonome senuweestelsel vertoon ‘n onvermoë om op ‘n gepaste wyse op stres te reageer. So byvoorbeeld het een FM pasiënt “so siek soos ‘n hond geword deur net na die spanningsvolle Tsunami-gebeure op die televisie te kyk,” sê Jeanette.
Sy sê dat gesonde mense sowel as fibromialgie-pasiënte kan baat by goeie streshantering en heelbreindenke. “Dit is vaardighede wat aangeleer kan word.” Jeanette sê dat gesonde en suksesvolle mense met hulle hele brein dink.
Denkers wat net hul regterbrein gebruik, word maklik fisies siek, kry depressie en psigosomatiese siektes. Denkers wat net hul linkerbrein gebruik (net logiese, analitiese denke, sonder intuïsie) skyn weer meer geneig te wees tot kanker.
Aanbevelings vir FM pasiënte wat kan volg uit die resultate van Jeanette se verhandeling, sluit in dat psigoterapie, berading, mediese behandeling, 'n oefen- en dieëtprogram baie goed kan werk.
“Ek glo dat as die sielkundige faktore opgelos word, die pasiënt kan herstel na ‘n paar jaar in plaas van om 35 jaar of langer met die siekte te worstel,” het Jeanette tydens haar navorsing gesê. Sy het ook kontrolepasiënte vanuit Louis Trichardt getoets.
Jeanette, wat in 1998 in matriek was, sê dat sy later aan ‘n doktorsgraad sal dink, maar dat sy nou eers haar akademiese loopbaan afwissel met werk as ‘n mediese verteenwoordiger vir Boehringer Ingelheim.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
