ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Johan van Nieuwenhuizen van Makhado Bierverspreiders kniel te midde van die mini-rioolmere wat orals in hul laai-area uitborrel.

Raad "kniediep" in die moeilikheid oor stink gemors

 

News  Date: 27 August 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Probleme met rou riool wat orals opstoot en opdam is besig om enige oorblywende goeie verhoudinge met die plaaslike Raad verder skipbreuk te laat ly in ‘n see van “gemors”.

Daar word gesê dat laagliggende dele en besighede soos Makhado Bierverspreiders se laaiareas ten minste twee keer per week omskep word in mini-rioolmere. Die probleem blyk die Raad se rioolpompstasie op die hoek van Byles- en Industriastraat te wees. Dié pompstasie kan duidelik nie die groot hoeveelheid rou riool wat daar opgaar betyds wegpomp na die rioolplaas nie. Die riool dam dan op in ‘n klein opgaardammetjie wat baie vinnig oorloop. Die uiteinde van die saak is dat die riool kortpad kies na laagliggende dele en sommige dae loop die riool amper ‘n duim diep oor die pad. Nog meer ontstellend is dat baie van die riool in die stormwaterstelsel beland wat uitloop in die omgewing van die dorpsboorgate. Wanneer die riool opdam, veroorsaak dit ook blokkasies in omliggende besighede se rioolstelsels wat hulle dan weer op eie koste moet ontblok.

“Wat gebeur as daar weer ernstige droogte is en mense moet van die boorgate begin gebruik maak vir drinkwater?” vra mnr. Johan van Nieuwenhuizen van Makhado Bierverspreiders.

Van Nieuwenhuizen voel dat die pompstasie nie voldoende is om die groot volumes riool van Makhado Park en die nuutgeboude maksimum sekuriteit gevangenis te hanteer nie. Sy sentiment word deur baie ander inwoners gedeel, wat die probleem direk toeskryf aan swak dorpsbeplanning. Die afgelope paar maande is die probleem herhaaldelik onder die Raad se aandag gebring, maar sonder enige sukses.

“As die ouens net wil uitkom en met jou wil kom praat, maar niks gebeur nie. Steeds kry hulle groot salarisse en ons hou maar net aan belasting betaal,” sê Van Nieuwenhuizen.

Die onwelriekende probleem het intussen ook uitgekring na die rioolplaas self. Klagtes is ontvang van onder meer inwoners van Sithumule en Kutama wat daagliks by die rioolplaas verby reis. Weer is ‘n ondraaglike stank, wat klaarblyklik net erger word, die grootste rede vir hul ongerief.

Mnr. Peter Magwala, Direkteur Korporatiewe Dienste van die Makhado Munisipaliteit, het Woensdag gesê dat hulle bewus is van die probleme en dat dit weliswaar ‘n onaanvaarbare stand van sake is.

Die probleem rakende die pompstasie is egter veel erger as wat aanvanklik vermoed is. Dit blyk dat die Raad ‘n paar jaar gelede ‘n administratiewe “foutjie” begaan het en die pompstasie op privaat grond gaan bou het. Intussen het die eienaar van die grond hulle hieroor begin opskroef en tans lê die saak by die hoërhof in Pretoria vir beslissing. Daar kan dus geen opgradering van die stelsel plaasvind nie alvorens dié “blokkasie” uit die stelsel verwyder is nie.

“Ons het simpatie met die mense in die omgewing, maar die probleem is dat ons niks kan doen totdat die saak opgelos is nie. Dit is moeilik om te sê hoe lank dit nog sal neem,” sê Magwala.

Magwala het ook in ‘n mate erken dat die uitbreiding bekend as Makhado Park en die maksimum sekuriteit gevangenis ‘n groot bydrae lewer tot die probleem.

“Ons is reeds besig om die aangeleentheid met die gevangenis te bespreek oor hoe ons die probleem kan verlig,” sê Magwala.

Makwala sê dat die betrokke pompstasie onvoldoende is, aangesien ‘n tweede pompstasie op die betrokke netwerk buite werking is. Herstelwerk aan dié pompstasie is reeds aan die gang en beloof om by voltooiing die probleem te verlig.

Rakende die stink storie by die rioolplaas, het Magwala gesê dat die tender vir die skoonmaak van die stelsel reeds gesluit het. Dié stelsel blyk tans geblokkeer te wees. Magwala sê dat die Uitvoerende Komitee van die Raad Vrydag sal besluit aan wie die tender toegeken sal word, waarna skoonmaakwerk binne die volgende paar weke sal begin.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines