

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 April 2006
Avo, avokado, avokadopeer, alligator pear - “Wat is tog in ‘n naam?” kan mense dalk soms vra.
Niemand het nog ‘n ernstige pyn ontwikkel oor die benaming pyn(appel), waat(lemoen), of turks(vye) nie, maar oppas vir die avokado(peer)!
Die voorsitter van die Levubu Avokado Studiegroep, mnr. Werner Muller het gereageer op die plaaslike gebruik van die naam “avokadopere,” en dit nogal in ‘n belangrike avokado-streek! “Avokado’s is nie pere nie!” benadruk hy. Dit is ook terwille van bemarkingsdoeleindes belangrik dat daar in die algemene taalgebruik hiervan kennis geneem word.
Vir talle plaaslike inwoners, wat grootgeword het met die benaming “avokadopeer” vir een van die gewildste en veelsydigste tropiese vrugsoorte hier in die noorde van Limpopo Provinsie, mag dit vreemd klink dat ‘n woeste stryd oor die korrekte benaming van hierdie geliefde, voedsame vrug, alreeds in 1915 aanleiding was tot ‘n formele mosie en ‘n heftige debat tydens die jaarvergadering van die California Avocado Association.
Dié deurlugtige vergadering moes besluit: Wat is die geskikste naam wat in die handel gebruik behoort te word? In daardie dele van Amerika was “alligator pear” toe reeds ingeburger en gewild in die volksmond, terwyl “ahuacate” en “agua-cate” die bekende name in sommige van die lande van oorsprong was. Die Engelse benaming “avocado” (wat volgens betroubare bronne vir die eeste keer in 1696 gebruik is) het ook betreklike wyd inslag gevind. Die uitslag van die stemmery in die formele Amerikaanse besluit was toe ook ‘n dawerende meerderheid vir: “Avocado”. Niks meer en niks minder nie. Dus, avokado, sonder die peer. En so is dit sedertdien internasionaal aanvaar.
Gevolglik is dit sekerlik nie snaaks nie, dat daar deesdae al hoe meer mense in die bedryf is wat maklik intellektuele sooibrand sal kry oor wat hulle beskou as die uitgediende en oud-modiese “peer” in die naam van ‘n vrug wat tog opvallend heeltemal nie verwant is aan pere nie en ook nie naastenby so smaak nie (nes pynappels en turksvye). Trouens, daar is deesdae selfs nie eers meer ‘n noodwendige ooreenkoms in die vorm van die vrugte nie. Daar is heelparty ronde en ovaalvormige avokados op die mark. Vir bemarkingsdoeleindes kan die verkeerde naam skadelike verwarring veroorsaak.
Volgens professor Nigel Wolstenholme, van die Universiteit van Natal, word die naamprobleem veral hinderlik wanneer mense in die gewone omgangstaal dan ook begin om kortlik na avokados bloot as “pere” te verwys.
Die lastige peerbenaming kom waarskynlik van die peervorm van die oorspronklike avokadovrugte waarmee Europese reisigers en setlaars in tropiese Amerika kennis gemaak het. Dit was die algemene gebruik om “vreemde nuwe vrugte” te vernoem na vrugte wat in die Europese vaderland bekend was.
“Avokado” het volgens beskikbare bronne vermoedelik sy ontstaan by die ou Asteekse benaming “ahuacate” of “aguacate” wat in Spaans oorgeneem is en in Portugees “abacate” genoem is. Die Franse het glo die naam “avocat” gebruik en was ook aandadig aan die pere-penarie deurdat dit soms ook “poire diavocat” (advokaat se peer) genoem is.
Van die jongste Afrikaanse woordeboeke en gesaghebbende taallyste gee nog steeds avokado(peer) as ‘n wettige wisselvorm aan.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
