ADVERTISEMENT:

 

'n Kamera wat perfek is vir dié projek, is die Mamiya C33 Professional wat dateer uit 1965. Dit is 'n baie besonderse kamera, nie net vanweë die skitterende lense en kwaliteit nie, maar ook vanuit 'n geskiedkundige oogpunt. Die kamera het behoort aan wyle Oom Billy Visser wat sedert 1960 by Vleissentraal gewerk het. Hy was 'n bekende gesig by veilings en ander landbou-aktiwiteite en heelwat van die streek se inwoners sal Oom Billy onthou met die (baie swaar) kamera wat aan die bandjie om sy nek hang. Sy dogter, Anne, het die kamera aan die museum beskikbaar gestel.

Ou kameras kan weer uitgehaal word vir projek

 

Die Zoutpansberger en Limpopo Mirror beoog om vanjaar weer die gewilde kalenderprojek aan te pak waar ouer filmkameras gebruik word om die foto’s te neem. Die plan is egter om dit nog interessanter te maak deur ‘n reeks byeenkomste aan te bied waar selfs beginners meer kan leer oor die ou kameras.

Verlede jaar se kalenderprojek was baie gewild en dit was bykans ongelooflik om te sien hoeveel mooi foto’s geneem is met kameras wat meer as ‘n halfeeu oud is. Die oudste kamera wat gebruik is, was ‘n Agfa Standard wat dateer uit 1926. Die “jongste” kamera wat gebruik is, was ‘n Minolta SRT101 wat dateer uit 1966. Al die foto’s is met swart-en-wit film geneem en self ontwikkel.

Soos in die verlede, stel die Zoutpansberger weer kameras uit die koerant se eie museum beskikbaar vir gebruik. Dié kameramuseum spog met meer as 100 kameras wat ‘n geskiedenis van 120 jaar reflekteer. Die oudste kamera is ‘n Kodak No 4 Cartridge wat vanuit 1897 dateer. Daar is egter ook verskeie kameras wat nog plate (in plaas van film) gebruik, asook bekende make soos Hasselblad, Leica, Voigtländer en Polaroid. Die museum kan gedurende kantoorure by die Zoutpansberger se kantore te Joubertstraat 16B besoek word.

Lesers wat graag deel wil neem aan die projek is welkom om hul eie kameras te gebruik. Selfs ou “Box Brownies” kan ingespan word en sal waarskynlik nog mooi foto’s kan neem. Daar is egter kameras in die museum beskikbaar wat meer geskik is vir beginners en met “luukses” soos ligmeters en verwyderbare lense spog. Die ernstige fotograwe wat meer beheer wil hê oor die proses, sal waarskynlik die mediumformaat-kameras wil gebruik met die beter kwaliteit lense.

‘n Werkswinkel word beplan vroeg in April vir alle belangstellendes. Tydens dié sessie sal die verskillende kameras bespreek word en die werking verduidelik word. Belangstellendes wat hul eie ou kameras het, is welkom om dit dan saam te bring. Die vereistes is dat die kamera 50 jaar of ouer moet wees. Diegene wat ou kameras het en nie seker is of dit nog werk nie, kan dit gerus saambring sodat dit getoets kan word.

Daar is geen koste verbonde aan die sessies nie en al uitgawe sal waarskynlik die film wees wat gebruik word. Verlede jaar het die Zoutpansberger vir die fotograwe film bestel en dit kan weer gedoen word. Film kos in die omgewing van R140 per rolletjie. Die ontwikkeling word self gedoen en daarna word die negatiewe ingeskandeer.

Die plan is dan ook om in Mei of Junie ‘n tweede sessie aan te bied waar die ou kameras (en fotograwe) se vernuf getoets word met ‘n verskeidenheid tema-opdragte. Die uitdaging sal dan wees om die ou kameras te gebruik vir portret-, landskap- en selfs makro-fotografie. Die tema sal deurentyd “Soutpansberg” wees.

Teen die einde van die jaar word die 12 beste foto’s gekies wat dan ingesluit word in die koerantgroep se jaarlikse kalender.

Belangstellendes kan Anton van Zyl kontak by (015) 516 4996/7 of stuur ‘n e-pos aan [email protected].

News - Date: 19 March 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: