ADVERTISEMENT:

 

Kremetart

Totsiens Kremetart?

 

Een van die streek se grootste sportgebeurtenisse, die uiters gewilde Kremetart Fietswedren, gaan nie vanjaar aangebied word nie. Dit sal die eerste keer wees in die ryke 28-jaar-lange geskiedenis van die wedren dat dit nie sal plaasvind nie.

Mnr. Stanley Thompson van die Soutpansberg Fietsryklub het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dat die klub besluit het om die wedren te kanselleer. “Ons grootste struikelblok was die finalisering van ‘n borg vir vanjaar se Kremetart. Die besluit om dit te kanselleer was glad nie maklik vir ons nie. Dit het ‘n groot impak op beide die dorp en die fietsrygemeenskap,” het Thompson gesê.

Die Kremetart het deur die jare in gewildheid gegroei vanweë die formaat waarin dit aangebied is en het jaarliks sowat 1 000 deelnemers (plus hul families) van reg oor die land gelok. Dit het telkens top name in fietsrygeledere ingesluit. Veral die 175 km-wedren wat op een dag in vier skofte beslis is, was ‘n groot aantrekkingskrag, met fietsryers wat die Kremetart in gewildheid met die Cape Argus vergelyk het. Dan was daar ook die 70 km-wedren, gevolg met die Kremetart XCO-wedrenne wat dieselfde naweek aangebied is - ‘n ware feesnaweek van fietsry.

Die klub se aankondiging om die 2017 Kremetart te kanselleer kom kort na ‘n amptelike aankondiging deur ASG Events voorverlede week dat hulle vanjaar se Kremetart gaan aanbied. Volgens Thompson is die aankondiging egter gedoen voordat ‘n finale ooreenkoms tussen die Soutpansberg Fietsryklub en ASG Events gesluit kon word. “My ooreenkoms met hulle was dat hulle slegs die wedren vir drie jaar ‘huur’ aangesien ons nie wil afstand doen van eienaarskap daarvan nie,” het Thompson gesê. Hiervoor was ASG Events nie te vinde nie. Thompson het ‘n e-pos aan die Zoutpansberger gewys waarin mnr. Wynand de Villiers van ASG Events sy standpunt hieroor verduidelik. “My terme was duidelik in ons gesprek. As ons betrokke gaan raak in die Kremetart, dan moet julle afstand doen van eienaarskap. As ons in die wedren gaan belê, moet dit langdurig wees en ons moet sekerheid hê. Dit het al met ons gebeur dat ons drie jaar bou aan ‘n wedren en, wanneer die finansiële prentjie weer rooskleurig lyk, dan wil die oorspronklike eienaar weer oorneem en dan word ons uitgeskop. Dit is ‘n afdoende vereiste vir ‘n kontrak en daarsonder kan ons nie voortgaan nie en sal (ons) onttrek,” het Du Plessis in sy e-pos op 7 Maart geskryf. Dit is opgevolg met ‘n e-pos van Thompson op 10 Maart waarin Du Plessis meegedeel word dat hulle dan eerder die Kremetart moet kanselleer.

Thompson het gesê dat deel van die oorspronklike ooreenkoms ook was dat plaaslike diensorganisasies weer gebruik moes word in die verskaffing van dienste. In die verlede het talle plaaslike diensorganisasies finansieel gebaat by die Kremetart. Dit het ingesluit die plaaslike Tafelronde wat jaarlikse die nou reeds beroemde potjiekosete gemaak het tydens die prysuitdeling. “Ons het hulle [Tafelronde] per kop betaal, so hulle het jaarlikse goed geld gemaak,” het Thompson gesê. So ook het onder meer LMB Makhado (biertuin), plaaslike kerke (kosstalletjies), die Soutpansberg Dorpswag (sekuriteit), Rotariërs (kosstalletjie) en Ladies Circle  4 onder meer by die jaarlikse Kremetart gebaat. “Hulle het glad nie daarvolgens gereël nie en het alles uit Johannesburg gereël,” het Thompson gesê. Dit, het Thompson gesê, het ingedruis teen die klub se strewe om die Kremetart se identiteit as ‘n “gemeenskapsprojek” te bewaar. “Ons het besluit om die Kremetart in beste belang van die dorp en gemeenskap te kanselleer. Al verloor ons dit een jaar, kry ons dit weer terug in 2018,” het Thompson gesê.

‘n Vinnige soektog op sosiale media en forums het getoon dat ASG Events se aankondiging reeds op verskeie fietsryforums en ander media versprei is. Die groot vraag is nou: Wat van die fietsryers wat reeds ingeskryf het? “Ons het geen besonderhede van die fietsryers wat reeds ingeskryf het nie. Ons het geen toegang tot hierdie inligting gehad nie en dit was sonder ‘n finale ooreenkoms. Dit was ook een van die redes wat gelei het tot ons finale besluit om die wedren te kanselleer,” het Thompson gesê.

Die besluit om die wedren te kanselleer is nie net ‘n terugslag vir die fietsryers wat reeds ingeskryf het nie. Thompson het gesê dat talle plaaslike gastehuise ook reeds aangedui het dat hulle volbespreek was vir die naweek van 3 Junie. “Die mense sal nou hul besprekings moet kanselleer. Dit is ‘n groot finansiële terugslag vir die plaaslike toerismebedryf,” het Thompson gesê.

Dit is reeds die tweede jaar dat die klub sukkel om ‘n borg te kry vir die Kremetart, nadat die bestaande borge weens die swak ekonomie hul borgskappe onttrek het. Verlede jaar het die Soutpansberg Fietsryklub die wedren op eie koste aangebied, maar sal dit doodeenvoudig net nie hierdie jaar kan bekostig nie. “Die minimum bedrag wat ons benodig vir die suksesvolle aanbied van die Kremetart-naweek is R350 000. Dit is nie kleingeld nie,” het Thompson gesê.

Thompson bly egter optimisties oor die Kremetart se toekoms. Die klub sou Woensdagaand ‘n vergadering met voornemende borge hou. “Ons wil nie net die Kremetart red nie, maar ook die gewilde Akkedis Bergfietswedren wat die klub elke jaar aanbied. Ons sal graag hierdie wedren wil ontwikkel in ‘n 3-dag skofwedren. Indien ons dit van die grond af kan kry, sal die Akkedis soortgelyk aan die Kremetart ‘n positiewe finansiële impak op die dorp hê,” het Thompson gesê. Hy het die publiek uitgenooi om met hom te skakel oor die voortbestaan van die Kremetart en moontlike borgskappe. Hy kan geskakel word by tel. 082 493 3897.

News - Date: 20 March 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Kremetart

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: