

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 April 2006
“Ek verstaan nie waarom hy, so ‘n vredeliewende mens, so moes doodgaan nie.” So het die bedroefde mev. Tina Fisser gereageer na die koelbloedige moord op haar man en bekende sakeman, mnr. Ben Fisser (65).
Mnr. Fisser, of Ben Prentjies soos hy bekend en bemind was, is vroeg Sondagoggend (9de) in sy woning in Kroghstraat vermoor. Hy was alleen by die huis terwyl sy eggenoot en dogter, Carin, op ‘n Voortrekkerkamp by Westfalia was. Die nuus het die hele gemeenskap tot in sy fondasie geruk, temeer so omdat hy bekend was as ‘n man wat ‘n absolute afsku in enige vorm van geweld gehad het. Die motief vir dié skokmoord is duister.
Mnr. Fisser is omstreeks 05:00 geskiet. Bure het ‘n skoot gehoor en glas wat breek. Eers het hulle vermoed dit was by hulle woning, maar toe hulle niks verdag buite hul huis kon bespeur nie, het hulle later weer in hul huis ingegaan.
Kort daarna het ‘n ander buurman, mnr. Hennie Coetzee, probeer om mnr. Fisser te gaan opklop om te hoor of alles in orde is by hom. Daar was geen reaksie nie.
Mnr. Coetzee het toe ‘n vriend van die familie geskakel en ‘n kort rukkie later kon die twee daarin slaag om toegang tot mnr. Fisser se huis te kry. Tot hul skok het hulle op mnr. Fisser se lyk afgekom in die gang naby sy slaapkamer. Die polisie is onmiddellik ontbied, terwyl ‘n vriendin van die Fisser-familie dadelik na Magoebaskloof gery het om vir mev. Fisser en Carin te gaan haal. Dit was eers met haar aankoms by Westfalia dat die Fisser-familie van die sinnelose moord ingelig is.
Volgens inligting het die moordenaar(s) voor mnr. Fisser se kamervenster vir hom gesit en wag. Daar word vermoed dat mnr. Fisser die gordyne oopgetrek het en die booswigte gewaar het. Hy is in die rug geskiet toe hy klaarblyklik omgedraai en probeer weghardloop het. Hy het ‘n paar treë verder inmekaar gesak. Roof blyk nie die motief te wees nie. Slegs ‘n broek van mnr. Fisser is deur die kamervenster verwyder. Dit is egter naby die huis weer teruggevind. Skokkend is egter die vermoede dat sy moord beplan was, nadat verskeie tekens om te huis gevind is wat verband hou met dié wat gebruik word deur misdadigers in plaasaanvalle.
“Mense het gesê ek moenie gaan kyk nie, maar ek moes. Ek moes afskeid neem en ek kon hom ‘n laaste keer vashou,” vertel mev. Fisser terwyl sy die trane probeer terughou.
“Ek voel daar moet êrens iets gebeur. Moorde soos hierdie kan nie meer net toegeskryf word aan misdaad nie. Môre is dit jy, of jou vrou of dogter word verkrag – niemand doen iets nie! As die kriminele gevang word is hulle kort voor lank weer vry. Dit is die stelsel wat verkeerd is,” sê mev. Fisser.
Mnr. Fisser word oorleef deur sy vrou, dogter en seun, Bennie, en drie kleinkinders. In 1994 het hulle hul oudste dogter, Tina, weens breinkanker aan die dood afgestaan. Wyle mnr. Fisser word Vrydag om 11:00 vanuit die Geloftekerk (N.G. Moedergemeente) begrawe.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
