

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 April 2006
Die gewapende inbreker wat verlede week vir mev. Rita Swart in die vroeë oggendure in haar woonhuis in Krugerstraat verras het, het vandeesweek weer toegeslaan, dié keer by bejaardes in die woonhuis reg langs Mev. Swart.
Die 85-jarige dr. Dirk Jacobs en sy vrou, Vossie, was omstreeks 20:00 in die TV-kamer van hul ruim woonhuis besig om musiek te luister, toe hulle skielik die deur agter hulle hoor oopgaan. Die gewapende rower het daar gestaan met ‘n pistool in die hand. Hy het geld geëis.
Skaars ‘n halfuur tevore het hul dogter, mev. Adi Robinson, hulle geskakel om nag te sê en seker te maak dat hulle veilig is.
“Ons dank die Here dat Hy ons ouers beskerm het. Dit kon maklik gewees het dat hulle vandag ook net nog ‘n statistiek van die misdaadgolf op ons dorp kon wees,” het mev. Robinson vandeesweek gesê.
“Ek het hulle nog vermaan om, wanneer hulle gaan slaap, dubbel seker te maak dat die veiligheidshek, wat die slaapgedeelte van die res van die huis skei, wel gesluit is. Min het ek toe geweet dat die pes, wat almal die afgelope tyd terroriseer, toe alreeds besig was om toegang tot hul huis te kry deur die spaarkamervenster. My pa het omstreeks 20:15 geskakel om te vra ek moet asseblief die polisie bel, want daar is ‘n gewapende inbreker in hul huis. Terwyl ek besig was om die polisie te skakel, was my man en kinders reeds op pad na my ouers toe.”
Die polisie was spoedig op die toneel, maar huiwerig om die woonhuis binne te gaan. Die inbreker was egter alreeds weg. Hy is terug oor die hoë palisadeheining langs die huis en het deur die tuin in die straat in verdwyn. Hy het ruite van die gastekamer se groot venster verwyder om toegang tot die huis te kry.
Volgens Dr. Jacobs, wat van 1979 tot 1989 distriksgeneesheer was, het hy van die rusbank af opgestaan, toe hy die inbreker in die deur sien staan.
“Die inbreker het die wapen oorgehaal en op my gerig.”
Dr. Jacobs het die mes waarmee hy besig was om biltong te kerf, opgetel en met die mes in sy hand na die gewapende inbreker begin stap, terwyl hulle besig was om te praat. Die inbreker het gesê hy soek geld. Dr. Jacobs het gesê hulle hou nie geld in die huis nie, hulle gebruik net tjeks vir betaling. Hy het steeds in die rigting van die inbreker beweeg.
“My enigste oorweging was om ons teen die indringer te beskerm. Ek was van plan om die mes te gebruik as dit nodig word.”
Die inbreker, nog met die vuurwapen in sy hand, het begin retireer. Dr. Jacobs het die inbreker teruggedwing tot in die gang.
“Hy het skielik ‘n stuk diefwering en ‘n doek in my gesig gegooi en verder teruggespring in die gangetjie in. Ek kon toe die veiligheidshek agter hom toestamp en sluit en het my dogter gaan bel.”
Dr. Jacobs sê die inbreker is ‘n jong swartman met skoon gelaatstrekke, ‘n netjiese voorkoms en kort hare.
“Ek kan nie onthou wat sy kleredrag was nie, ek het net daarop gekonsentreer om ons te beskerm.”
‘n Geskokte mevrou Jacobs sê: “Ons het ons hele lewe lank niemand benadeel nie en net ander mense gehelp. My man het hulle gesond gedokter en ek het hulle help verpleeg. Nou, op ons oudag, kry ons sulke behandeling terug. Hoekom?”
Hul dogter sê: “Ons sal van nou af maar self Krugerstraat, wat al vir maande lank die teiken van gereelde inbrake is, moet patrolleer, want dit lyk nie asof daar ernstige pogings is om die inbreker aan te keer nie.”
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
