

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 April 2006
‘n Ma moes Maandagmiddag haar twee klein kindertjies desperaat verdedig teen twee gewapende rampokkers wat skote afgevuur het terwyl die kinders probeer het om ‘n plaasaanval te ontvlug.
Mev. Anne McGaffin van die plaas Grassmoor op die Levubu-pad, het tot die redding van die agtjarige Leigh en vyfjarige Gordon gekom.
Twee gewapende rampokkers het Maandag, in die afwesigheid van die gesin, twee huisbediendes en ‘n tuinier by die plaaswoning oorrompel en vasgebind en toe die gesin ingewag, wat in daardie stadium in Makhado (Louis Trichardt) was.
Mev. McGaffin en die twee kinders het gedurende middagete niksvermoedend teruggekeer plaas toe. By die voordeur het sy onraad bemerk en die kinders beveel om weg te hardloop, terwyl sy haar vuurwapen uit haar handsak probeer kry het. Die booswigte het egter onmiddellik begin skiet, en sy moes die kinders terugroep om te voorkom dat hulle raakgeskiet word.
Die misdadigers het haar en die kinders oorrompel en ook vasgebind. In ‘n stadium het hulle gedreig om die twee kinders saam met hulle weg te voer. Mev. McGaffin het hulle egter oorreed om van hul plan af te sien. Hulle het verskeie gesteelde goedere in haar voertuig gelaai en na ‘n gesukkel weggekom met kontant, klanktoerusting, elektriese gereedskap, en ‘n handwapen.
Mev. McGaffin, wat ondertussen losgekom het, het haar eggenoot, mnr. Sean McGaffin, in die dorp gekontak en die polisie is ontbied. Mr. McGaffin het met waardering melding gemaak van die professionele wyse waarop die lede van die SAPD die ondersoek op die misdaadtoneel behartig het.
Die gesin se gesteelde voertuig is later beskadig langs die Beja-pad gevind. Die polisie het sommige van die gesteelde goedere in die bosse digby die plek gevind.
Die twee misdadigers was jeugdig van voorkoms en is vermoedelik van elders afkomstig. Hulle het met mekaar gepraat in ‘n taal wat vreemd was vir die plaaslike inwoners.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
