ADVERTISEMENT:

 

Polisie reservis Dries Rossouw bekyk van die takkies op die sypaadjie wat vermoedelik aandui dat mnr. Fisser vermoor moes word.

Tekens wys dat Fisser-moord beplan was

 

News  Date: 14 April 2006

 

“Daar was definitief plaasaanvaltekens.” So het die voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, mnr. Fritz Ahrens, gereageer na aanleiding van die sinnelose en koelbloedige moord op mnr. Ben Fisser.

Van die tekens wat om die huis sigbaar was, was boomtakke wat onderstebo op die heiningdraad gedruk is. Daar was ook onder meer ‘n groen en wit sak wat klaarblyklik aandui dat dit ‘n sagte teiken is en dat daar voortgegaan kan word met die aanval. Rooi koeldrankblikkies wat met reëlmaat uitgepak is, is ‘n aanduiding dat wie ookal die aanval uitvoer, gewapen moet kom. Die mees ontstellende teken was egter die “doodmaak” teken wat op een plek met stokkies gepak is op die padskouer naby wyle mnr. Fisser se huis in Kroghstraat.

“Dit was definitief ‘n beplande moord, maar ons weet nie wat die motief daaragter is nie – die tekens wys nie dit nie,” sê Ahrens. Hy voeg by dat dit wil voorkom asof wie ookal vir die moord verantwoordelik was, deeglike militêre opleiding gekry het.

Ahrens sê die tekens, of Afrika Taal soos daar ook na verwys word, kom uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Soortgelyke tekens is in verskeie oorloë gebruik, asook die oorlog in Korea.

“Die tekens kan die spesifieke tyd wat ‘n aanval moet plaasvind, tot op die naaste vyf minute aandui,” sê Ahrens.

Alhoewel inwoners op die uitkyk moet wees vir moontlike verdagte tekens, het Ahrens inwoners versoek om onder geen omstandighede die tekens te verwyder nie. Hy sê iemand wat vermoed dat sulke tekens by sy woning aangebring is, dit moet dophou vir verandering (soos ‘n blikke wat eers gelê het en die volgende dag regop staan) en iemand skakel wat kan help om te bepaal of dit inderdaad ‘n waarskuwing is tot ‘n aanval. Hy het homself, asook ‘n paar ander lede van die Boerevereniging hiervoor beskikbaar gestel. Ahrens en die ander lede se nommers verskyn aan die einde van die berig.

Ahrens vertel verder dat die persoon wat die aanval beplan en dié wat dit uitvoer, amper nooit dieselfde persoon is nie. In plaasaanvalle kan tot ses persone betrokke wees. In amper al die gevalle blyk dit dat die persoon wat die aanval uitvoer nie eers weet wie die beplanning gedoen het nie. Wat die uitsit van die tekens betref, sê Ahrens dat dit gewoonlik iemand is wat bekend is.

“Dit kan iemand wees wat deur die slagoffer afgedank is. Dit is ook nie net mans nie, maar kan ook ‘n vrou wees,” sê Ahrens.

Ahrens waarsku egter dat nie alle tekens dui op ‘n aanval nie. Dit kan ook verband hou met ander kriminele aktiwiteite soos dwelmhandel en geld wat geroof en op ‘n spesifieke plek versteek is.

Persone wat agterdogtig is oor moontlike tekens by hul wonings kan vir Ahrens skakel by tel. 082 897 0068, Hannes Viljoen by 083 357 3296 of Jacques Bouwer by 082 465 1440.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines