ADVERTISEMENT:

 

Die komitee wat hulself beskikbaar gestel het vir die bewaring van die dorp en streek se kulturele erfenis tydens die Erfenisstigting se eerste nasionale slypskool verlede Woensdag in Louis Trichardt. Voor, van links na regs, is Annekie Jandrell, Linette van der Merwe, Inga Gilfillan en Christa Lourens. Agter is Dodrie en Schalk Corbett, Chriszelda Koen en Petria de Vaal-Senekal. Jeanne Swanepoel en ds. Petrus Kriel was afwesig tydens die neem van die foto. Foto verskaf.

Komitee sal aandag skenk aan streek se eie erfenis

 

News  Date: 01 April 2017

 

Die Erfenisstigting het as deel van hul landswye erfenisbewusmakingsprojek hul eerste landswye slypskool op 22 Maart in Louis Trichardt aangebied.

“Die slypskool het sommer baie goed afgeloop, te danke aan die geesdriftige mense van Louis Trichardt. Met hierdie werkswinkels hoop ons om gemeenskappe te help om self verantwoordelikheid te neem vir die dokumentering en basiese versorging van die erfenisterreine ensovoorts in hulle gebied,” het me. Riana Mulder van die Erfenisstigting in Pretoria na afloop van die byeenkoms gesê.

Tydens die slypskool is daar ‘n komitee saamgestel wat plaaslik die belange van die streek en sy mense se erfenis sal beskerm. Die komitee bestaan uit Annekie Jandrell, Linette van der Merwe, Inga Gilfillan, Christa Lourens, Jeanne Swanepoel, ds. Petrus Kriel, Schalk en Dodrie Corbett, Chrizelda Koen en Petria de Vaal-Senekal. “Hierdie persone vorm die kerngroep wat besig is om geboue, terreine, monumente, grafte en ander dinge van historiese en kultuurhistoriese belang te identifiseer. Daar sal eersdaags weer vergader word om prioriteite te identifiseer,” het Mulder gesê. 

Volgens Petria sal plekke van belang voorrang geniet om die nodige versorging te kry. “Instandhouding sal gereël word en die publiek sal bewus gemaak word van ons erfenis in ons onmiddellike omgewing,” het sy gesê.

As deel van die eerste nasionale slypskool is die komitee onder meer ingelig oor die jongste wetgewing wat erfenisbewaring betref en hoe dit van toepassing gemaak kan word. “Erfenis sluit nie net in fisiese terreine, dokumente ensovoorts in nie, maar ook geestelike erfenis, byvoorbeeld legendes, verhale en herinneringe. ‘n Databasis sal opgestel word, wat ook sal insluit ou foto’s, kaarte, dokumente, dagboeke en rekords om sodoende ‘n argief vir ons omgewing op te bou,” het Petria gesê. Hierdie inligting sal dan deel vorm van die groter databasis wat by die Erfenisstigting (by die Voortrekkermonument) bewaar sal word.

‘n Beroep word op alle lede van die gemeenskap gedoen om die komitee behulpsaam te wees met enige bystand. Die komitee beplan ook verskeie fondsinsamelingsprojekte om projekte te finansier. Vir meer inligting, skakel Pétria by tel. 082 555 1672 of Riana van die Erfenisstigting by 087 150 6582 of stuur ‘n e-pos aan haar by [email protected].

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines