ADVERTISEMENT:

 

Wyle Ben Fisser saam met vroulief Tina en twee van hul drie kleinkinders, Riëtte en Bernard.

"Hy kon altyd die humor in dinge sien"

 

News  Date: 14 April 2006

 

Te midde van die hartseer, vrae en die bitterheid, onthou mev. Fisser, oftewel tannie Tina, haar man oom Ben Prentjies met ‘n glimlag.

Gebore in Holland, was hy maar nog ‘n jong seun tydens die Tweede Wêreld Oorlog.

“Jy sal nie glo hoe dit sy lewe verander het nie. Dit was tydens die oorlog dat hy so ‘n geweldige afsku in enige vorm van geweld gekry het. Ons kinders mag nie eers met speelgoedgewere gespeel het nie,” vertel tannie Tina.

In 1953 het verwoestende vloede Holland getref. Duisende het gesterf en net daar en dan het oupa Fisser besluit, genoeg is genoeg. Die familie, Ben toe 12 jaar oud, het op die boot, De Zuiderland, geklim en na Kaapstad gereis. Hier aangekom moes oupa Fisser werk kry, wat uiteindelik die familie na Kemptonpark gebring het.

Op 21-jarige ouderdom arriveer die jong Ben op Louis Trichardt. Eers het hy ‘n foto-ateljee bedryf, vandaar sy bynaam Ben Prentjies. Dit was egter nie lank nie, of Ben besef daar is nie genoeg geld in fotografie nie. Hy het toe bietjie gesmous met skrootmetaal, maar dit was eers met sy eiendomsagentskap, Ben Fisser Eiendomme, dat die jong Ben vir homself ‘n naam gemaak het.

Ben en Tina is op 3 April 1971 getroud – ‘n storie op sy eie. Tina se sussie het op Louis Trichardt skoolgehou en het eendag vir Ben gesê sy het die regte vrou vir hom, maar dat hy nie hond haaraf gaan maak om haar hart te wen nie.

“Net daar was dit vir hom ‘n uitdaging. As hy iets besluit het, het hy dit gedoen.”

Ben is toe saam met sy latere swaer Jeffereysbaai toe waar Tina stranddiens gedoen het. Tina het gehoor van die Hollander wat na haar soek en aanvanklik probeer wegkruip. Hy het haar egter een aand by haar woning tot laatnag ingewag en sommer by die eerste ontmoeting haar gevra om te trou. Die volgende dag het hy al gaan ouers vra. Drie kinders is uit die huwelik gebore, Tina, Bennie en Carin. Tragedie het egter die familie in 1994 getref met die afsterwe van hul beminde dogter, Tina, aan breinkanker. Tog het die familie ten spyte van die tragedie gegroei in hul geloof.

“Hy het ‘n ontsettende sin vir humor gehad. Hy het ook maar partykeer stout grappies vertel en dan het hy hom verkneukel oor die grappie. Hy was baie lief vir koorsang en was in die Geloftekerk se koor.”

So rondom sy humor vertel tannie Tina dat oom Ben eendag vir haar gesê het dat hy haar bed skool toe gaan vat waar sy by Laerskool Louis Trichardt klasgee. Sy argument was dat sy te erg is oor haar skool- en Voortrekkerwerk. Sy onthou nog die dag toe skoolhoof Johan Otto haar na die kantoor geroep het. Wat sou sy sien? Ben het haar bed en al haar belangrike Voortrekkergoed by die voorportaal ingedra en sy is daar gemaak sit, totdat Johan Koerant van die Zoutpansberger ‘n foto kom neem het.

Dit was die mens Ben Prentjies – iemand wat altyd die humor kon raaksien, geweld verafsku het en ‘n man wat daarin geglo het om altyd besig te bly. Deur die jare het sy naam amper sinoniem geword met die dorp. Na sy aftrede het hy dinge begin rustiger vat, maar homself steeds besig gehou. Hy het sy seun Bennie gehelp om ‘n besigheid op die been te bring en was self tot sy dood eienaar van MS Stamps en ‘n fotokopieërbesigheid. Hy was altyd bereid om mense te help, maar dan moes jy nie lui wees nie. Hyself het swaar grootgeword en het daarin geglo dat jy moet werk vir dit wat jy wil hê.

Oom Ben sal gemis word, maar vir Tina en haar kinders is daar hope hope goeie herinneringe.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines