

ADVERTISEMENT:

Nog ‘n oorwinning vir die AfriForum-span in die Noord-Gautengse Hooggeregshof teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit. Afgeneem kort na die hof se bevel teen Vhembe is, van links na regs, mnre. Tiaan Esterhuizen (hoof van AfriForum Gemeenskapsake), Wally Schultz en Chris Boshoff (provinsiale organiseerder van AfriForum). Foto verskaf.
News Date: 02 April 2017
Die AfriForum-tak in Louis Trichardt het op 28 Maart ‘n hofbevel in die Noord-Gautengse Hooggeregshof teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit en die burgemeester gekry.
Volgens AfriForum het die hof gelas dat die munisipaliteit die hofbevele binne 30 dae moet nakom. Die hofbevel behels onder meer dat die munisipaliteit die dorp se watertoevoer moet herstel, die boorgatprojek weer op die been moet bring, asook die boorgate teen vandale moet beveilig. Die munisipaliteit sal ook kennis moet gee oor wanneer die gemeenskap sonder water gaan wees en vir hoe lank só ’n droogtetydperk sal duur. “As dit nie gebeur nie, sal AfriForum ‘n minagtingsaansoek bring wat tot arrestasie van die skuldiges sal lei,” het AfriForum in ‘n persverklaring gesê.
AfriForum het die hofaansoek gebring weens Vhembe se onvermoë om Louis Trichardt se boorgatinfrastruktuur te onderhou en te beveilig, en die gemeenskap ervaar reeds jare lank ‘n probleem met konstante watertoevoer. “Toegang tot water is ‘n basiese grondwetlike reg en belastingbetalers betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Dit is onaanvaarbaar en ons is bly dat die hof dit so ingesien het. Die feit dat die munisipaliteit nie opgedaag het om die aansoek teen te staan nie, is ‘n verdere aanduiding dat hulle nie vir die gemeenskap omgee nie,” het AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo, mnr. Chris Boshoff, gesê.
Plaaslike AfriForum voorsitter mnr. Wally Schultz was ook baie tevrede met die hofbevel. “Desperate inwoners van Louis Trichardt vestig al hulle hoop op hierdie hofsaak, sodat die watertoevoer na die dorp ten volle herstel kan word. Die distriksmunisipaliteit het talle geleenthede gehad om ‘n eenvoudige boorgatplan uit te voer wat die waterkrisis sou stuit, maar dit het nie gebeur nie. Ons hoop dat die uitspraak daartoe sal lei dat amptenare nou hul werk begin doen,” het Schultz gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
