

ADVERTISEMENT:

Rampie Gilfillan (links) en Anton Pretorius (regs) op die piek van die berg Kilimanjaro. Foto verskaf.
News Date: 03 April 2017
Louis Trichardt sakemanne Rampie Gilfillan (45) en Anton Pretorius (55) het letterlik nuwe hoogtes bereik, nadat hulle tot op die kruin van die berg Kilimanjaro in Tanzanië geklim het.
Kilimanjaro toring 5 895 m bo seespieël oor die Afrika vlaktes uit en is nie net die hoogste berg in Afrika nie, maar ook die hoogste alleenstaande berg (nie gekoppel aan ‘n bergreeks nie) in die wêreld.
Mense wat vir Rampie en Anton ken sal weet dat hulle eintlik mense is wat baie meer gemaklik op die gholfbaan is. Die Zoutpansberger het dus Woensdag by Rampie gaan inloer om uit te vind hoe hulle vanaf die gholfbaan tot bo-op Kilimanjaro gekom het?
Volgens Rampie praat hy en Anton al vyf jaar daaroor om die berg te klim, maar kon nooit regtig tot ‘n besluit kom nie. Dié status quo het egter verlede jaar verander, nadat iemand hulle uitgedaag het om die berg te klim.
So besluit, so gedoen. Volgens Rampie is daar ses moontlike roetes wat hulle kon stap. Eers het hulle besluit om die maklikste roete te stap, maar later besluit om eerder die tweede moeilikste roete, die Machema-roete, te stap.
Die eerste hekkie vir Rampie en Anton was dat nie een van hulle stappers of bergklimmers is nie. Rampie het egter besluit om bietjie op Google te gaan rondkrap en navorsing te doen. “Jy hoef nie Comrades-fiks te wees nie, maar jy moet stapfiks wees,” het Rampie gesê. As deel van hul voorbereiding het hulle drie keer per week die Hanglip-staproete tot by die stappershut en terug gestap. “Jou voorbereiding ten opsigte van toerusting is ook uiters belangrik. Het jy die regte skoene, regte klere en regte rugsak? Alles gaan oor gewig, want jy wil so min as moontlik met jou saamdra,” het Rampie gesê.
Na ‘n paar maande se strawwe oefening het die groot dag aangebreek. Om middernag op 6 Maart het Rampie en Anton vanaf OR Tambo na Nairobi gevlieg, vanwaar hulle weer na Kilimanjaro op die grens tussen Kenia en Tanzanië gevlieg het. “Interessant genoeg, jy kan net Kilimanjaro van Tanzanië se kant klim,” het Rampie gesê.
Op 8 Maart, na ‘n laaste aand van lekker slaap in ‘n hotel in die dorpie Moshi aan die voet van Kilimanjaro, het Rampie en Anton hul aanslag op die bergpiek begin maak. Dit het behels ‘n stap van sewe ure tot by Machame-kamp op ‘n hoogte van 2 835 m. Rampie sou dieselfde aand nog na die hotelbed verlang. “Ek het nogal gedink om ‘n storie te skryf, Life in a tent on Kilimanjaro – Don’t do it!” het Rampie geskerts.
Dag twee het die plaaslike stappers in ses ure gevorder tot by die Shira Cave-kamp op ‘n hoogte van 3 750 m en die oggend daarna tot by die Lava Tower-kamp. “Maar hier het ons nie oornag nie, net middagete geniet, waarna ons weer ondertoe begin stap het,” het Rampie gesê. Die rede waarom hulle weer ondertoe begin stap het, was om hulle te help om te akklimatiseer. “Vanaf 3 700 m is jy reeds hoog en die op en af stap help jou met jou asemhaling.
Aan die einde van dag drie het Rampie-hulle by die Baranco-kamp oornag op ‘n hoogte van 3 900 m. Die volgende dag sou hulle hul eerste groot “klim” egter hê tot by hulle finale oornagkamp, Barafu-kamp, voordat hulle die piek aandurf. “Tussen Baranco en Barafu moet jy die Barafu-muur klim. Dit is nie so moeilik nie, maar as jy gly en val is jy dood. Iemand met hoogtevrees sal beslis nie dit maak nie,” het Rampie gesê.
Beide Rampie en Anton het egter die Barafu-muur oorleef en teen die einde van dag vier het hulle Barafu-kamp bereik. Bokant hulle het die magtige piek van Kilimanjaro uitgetroon. Om vieruur die middag van 11 Maart was Rampie-hulle al in die bed. “Die aanslag op die bergpiek oor die laaste vyf kilometer is beslis die moeilikste deel van die stap. Jy kry doodeenvoudig nie asem nie, omdat jy so hoog is,” het Rampie gesê.
Maar daar was maar min slaap. Om 23:00 dieselfde aand het Rampie-hulle opgestaan, aangetrek en die piek begin bestyg. Sewe-en-‘n-half uur later het hulle op Kilimanjaro se piek gestaan. “Ek kan nie vir jou die gevoel beskryf nie, want dit is nie ‘n gevoel wat jy vir iemand kan beskryf nie. Daar is nie ‘n woord wat dit kan beskryf nie. Ek en Anton het albei in trane uitgebars en ek weet nie hoekom nie,” het Rampie gesê. Al wat daarna vir hulle voorgelê het, was die een-en-‘n-half dag se stap ondertoe. “Dit is 17 km se stap oor klippe en boomwortels. Dit is baie erg op die bobene, maar elke meter wat jy sak, voel jy hoe jou liggaam weer herstel. Dit is ongelooflik!” het Rampie gesê.
Rampie romantiseer geensins hul suksesvolle aanslag op die bergpiek nie. “Iemand het vir my gevra of ek dit weer sal doen en die antwoord is nee. Die eerste ding is dat die roete vreeslik onhigiënies is – onthou daar is geen toilette nie. Jou tent is letterlik ook nie ‘n slaapplek. Die kampplekke self is ook niks spesiaal nie, net ‘n stuk grond. Dit is baie koud en daar is geen krag nie – daar is niks om elke dag na uit te sien behalwe om klaar te stap en te gaan slaap nie. Dit is ook nie dat jy baie moeg is nie,” het Rampie gesê. “Dit gesê,” voeg Rampie by, “daardie tien minute wat jy op die piek staan maak alles die moeite werd!”
Rampie sê hy dink hulle was fiks genoeg vir die uitdaging. “Anton het bietjie gesukkel met krampe en hoogtesiekte. Ek self was maar flou toe ons die piek bereik het. Die wagwoord tot sukses op die berg is stadig-stadig, of pôle-pôle soos ons draers ons kort-kort herinner het,” het Rampie gesê.
Vir eers het hy en Anton geen planne vir ‘n volgende uitdaging nie en Everest is beslis nie op hul lysie nie. “Maar dit was vir my ‘n moerse belewenis en persoonlike prestasie,” het Rampie gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
