

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 April 2006
Suid-Afrika was eens volop bewoon deur Boesmanstamme en hul tradisionele wyses van jag en spoorsny was ‘n tradisionele erfenis.
Die stigting van SADA, ‘n opleiding- en sekeriteitsonderneming is van so aard dat boesmans al hul tegnieke ten volle benut en bevorder om die boesmans sowel as boere van groot nut te wees in ons alledaagse lewens.
Die onderneming is in Kimberley geleë en is deur Gert Schoombie, ‘n oud-offisier van die SA Weermag, gestig. Die onderneming bestaan uit die oplei en uithuur van boesmans as plaaswagte, natuurbewaarders en doeltreffende spoorsnyers om die diefstal op plase te beperk en te verhoed.
Nico König, ‘n plaaslike boer van die Soutpansbergomgewing, het onlangs van die onderneming te hore gekom by ‘n vriend en mede-boer van Soekmekaar en het dadelik besluit om dit op die proef te stel.
Die enigste probleem was dat die boesmans by die onderneming in Kimberley gehaal moet word en dan na die verstryking van die kontrakperiode weer teruggeneem moet word. Die boesmans het op 30 Maart al begin werk en volgens Nico is die afstand om te ry om hulle te gaan haal die enigste ongerief.
Die onkoste was egter vir Nico die moeite werd, aangesien dit steeds goedkoper uitwerk as die verliese vanweë wildstropery. Dit werk selfs baie goedkoper uit as ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy wat dienste lewer aan verskeie plase in die omgewing.
Nico het aan die Zoutpansberger vertel dat SANDA drie- of ses-maande-lange kontrakte bied vir hul dienste en na die verstryking sal die boesmans terug keer huistoe, waarna hul weer uitgeplaas sal word. Die boesmans kom van die San-stamme soos die Xun en die Kwhe wat in die Noord-Kaap hervestig is na die grensoorlog in Angola en die destydse Suidwes waar hulle talent as spoorsnyers deur die weermag gebruik is.
Gert Schoombie het SADA begin sodat boesmans ‘n inkomste in ons moderne samelewing kan verdien deur dit wat hulle voorouers goed kon doen. Die opleiding wat aan die boesmans verskaf word is om hul geërfde talente van jag en spoorsny te bevorder sodat hulle dit kan toepas, in die loop van hulle werk as wagte, bewaarders, spoorsnyers, hondehanteerders, mobiele wagte en selfs industriële wagte. Die boesmans sal nie net die boorde van plase kan patrolleer en oppas nie, maar selfs die skuldige stropers probeer vastrek deur hul spore te volg.
Volgens Nico het hy twee boesmans gehuur, sodat hy een op elke plaas kan hê, en so voldoende dekking kan kry vir sy belange. Hy het verder vertel dat Naftalie Siyaya al klaar sy werknemers se spore bestudeer het en al klaar gesigte by spore kan sit. Naftalie het selfs ook ‘n klomp stokke ontdek wat moontlik gebruik is om die neute van die bome af te slaan. Naftalie was glad nie skaam om te begin met sy werk nie. Die dag toe Nico hom by die plaas aangebring het, het dit gereën en hy het vir Naftalie gesê dat hy eers kan rus. Nico het later gebel om seker te maak of Naftalie genoeg komberse het en het ontdek dat Naftalie al reeds besig was om die boorde in die reën te verken.
Nico het ook vertel dat Naftalie sy boog by die huis vergeet het en dat Naftalie huidiglik begin het om ‘n nuwe boog te maak van materiaal uit sy onmiddellike omgewing. Naftalie het in ‘n onderhoud met die Zoutpansberger vertel dat hy baie opgewonde is oor die groen gebied waarin hy hom bevind en dat die baie reën hom baie verbaas het. Hy het verder ook vertel hoe hy ‘n rooibok vel gebruik het om drie snare te maak vir sy boog - een om vir gebruik en die ander twee net vir ingeval die eerste een sou breek as dit nat word.
Nico het ook verder vertel dat hy baie tevrede is met Naftalie, aangesien hy daagliks aan hom rapporteer oor die omstandighede op die plaas. Nico het verder sy hoop uitgespreek dat ander boere in die omgewing hierdie inisiatief met ope arms sal verwelkom en ‘n oplossing sal kan vind vir diefstal van vee en gewasse.

ADVERTISEMENT:
