

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 April 2017
‘n Plaaslike weldoener wat gepoog het om sy naaste van hulp te wees, se pogings het hom duur te staan gekom.
‘n Werknemer van mnr. Louis Nel, ‘n boer van Waterpoort, het hierdie week in die Louis Trichardt Streekshof verskyn op ‘n klag van motor- en wapendiefstal. Die 41-jarige Ockert Johannes Scherman staar ook ‘n alternatiewe klag van die onwettige besit van vuurwapens in die gesig.
Volgens inligting beskikbaar aan die koerant, het Nel vir Scherman ingeneem en werk aangebied op sy plaas. Die kriminele klagte teen Scherman spruit uit ‘n voorval in Januarie vanjaar toe Nel hom dorp toe gestuur het met die plaasbakkie. Scherman het egter spoorloos verdwyn met Nel se bakkie en twee dae later het Nel die polisie se hulp ingeroep.
Agter op die bakkie was daar derduisende rande se plaasgereedskap en toerusting gewees. Die bakkie is later deur die polisie in Sunnyside, Pretoria, teruggekry. Scherman het homself aan die polisie oorgegee in Witrivier, Nelspruit. Hy het glo daar gaan kuier vir vriende.
Die klagte van wapendiefstal hou verband met bewerings dat Scherman drie wapens, ‘n handwapen en twee jaggewere, uit Nel se wapenkluis gevat het. Die wapens word nog vermis.
Scherman se borgaansoek is van die hand gewys, nadat dit aan die lig gekom het dat daar in 2013 ‘n lasbrief uitgereik is vir sy arrestasie in Witrivier op ‘n klag van diefstal van R40 000. Volgens inligting beskikbaar aan die koerant, het Scherman skuldig gepleit op die aanklag teen hom. Die Witrivier Landdroshof sal Scherman vonnis, sodra ‘n vooraf vonnisverslag opgestel is.
Intussen sal Scherman daar in aanhouding bly tot hy weer hier in die hof moet verskyn op 8 Mei.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
