ADVERTISEMENT:

 

Nog ‘n krimineel van strate afgehaal

 

News  Date: 08 April 2017

 

Die Makhado polisie het die nuus verwelkom dat nog ‘n gevaarlike krimineel uit die Louis Trichardt-gemeenskap verwyder is.

German Thomas Hlambela (40) is verlede week direkte gevangenisstraf opgelê, nadat hy deur die plaaslike streekshof skuldig bevind is vir die gewapende roof by die Bergwater Hotel op 7 November 2015.

Hlambela is kort na dié roof deur die Makhado Polisie gearresteer, nadat sy vingerafdrukke op die geldkis binne-in die hotelkantoor gevind is. Die polisie is na die tyd geloof dat hulle so vinnig dié vingerafdrukke kon prosesseer. Hlambela is vinnig aangekeer, omdat sy vingerafdrukke reeds in die stelsel was.

Tydens die polisie se ondersoek het dit aan die lig gekom dat Hlambela saam met nog twee onbekende rowers die hotel beroof het. Hy en die ander twee verdagtes, wat nog op vrye voet is, het ongeveer 23:00 by die hotel aangekom onder die voorwendsel dat hulle ‘n kamer wou bespreek. Hulle het egter die nagwag, mnr. Walter Ndwakhulu, met ‘n vuurwapen oorrompel, aangerand en met ‘n tou vasgebind, voordat hulle met meer as R6 000 uit die hotel se kluis op die vlug geslaan het.

Hlambela het tydens sy verhoor aangevoer dat hy geen benul het hoe sy vingerafdrukke op die kissie gekom het nie. Sy verweer was dat hy gedurende die tyd wat die misdryf gepleeg is, werksaam was by Flamingo Paneelkloppers in “Mokopane” in diens van mnr. Robbie Stewart.

Op ‘n vraag van die Staat of dit dieselfde mnr. Stewart is wat die eienaar is van Flamingo Paneelkloppers op Louis Trichardt, het Hlambela ja geantwoord. Stewart het egter vir die Staat getuig dat Hlambela nog nooit in sy diens was nie, en dat hy ook nog nooit ‘n besigheid op Mokopane gehad het nie.

Die hof het swaar gesteun op Stewart en die vingerafdrukdeskundige se getuienis en Hlambela is skuldig bevind op ‘n klag van gewapende roof met verswarende omstandighede.

Hlambela is gevonnis tot 15 jaar direkte gevangenisstraf. Buiten hiervoor is Hlambela ook ‘n verdere 12 maande gevangenisstraf opgelê op ‘n klag van die besit van gesteelde goedere, nadat gesteelde klere van Truworths in sy besit gekry is.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines