ADVERTISEMENT:

 

Twee dwelmhandelaars twee keer harder gestraf

 

News  Date: 08 April 2017

 

As jy nie wil hoor nie, dan moet jy voel … So was dit vir twee Nigeriese burgers wat twee keer in besit van dwelms in Louis Trichardt betrap is.

Die twee mans, Patrick Uchenna (36) en Jeremiah David Okeke (25), het op 12 November 2014 die eerste keer met die plaaslike gereg gebots, nadat metamfetamienes  (cat en tik) in hul besit gevind is tydens ‘n roetine deursoek van hul voertuig deur die polisie.

Uchenna en Okeke is in arres geplaas en op 11 Februarie 2015 in die Louis Trichardt Streekshof skuldig bevind op ‘n klag van die onwettige besit van dwelms. Albei is gevonnis tot ‘n boete van R40 000 of direkte gevangenisstraf van vier jaar waarvan twee jaar vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is, mits hulle nie weer op dieselfde klagte skuldig bevind word nie.

Helaas, die twee mans is nege maand later weer gevang, danksy die wakker optrede van die Makhado polisie. Okeke en Uchenna is aangekeer naby die Total-vulstasie (hoek van Rissik- en Kroghstraat) toe hulle nie hul paspoort en visa kon toon as bewys dat hul wettiglik in die land is nie.

Die polisie het die mans gevolg na ‘n huis in Kortstraat, sodat hulle hul dokumente kon kry. Daar gekom het die polisie onraad vermoed en die huis deursoek. Hulle ondersoek het 47 sakkies tik en cat opgelewer; wat weggesteek was in ‘n ou kous agter in die voue van ‘n gordyn.

Albei is weer aangekla van die onwettige besit van dwelms, asook op klagte dat hulle die immigrasiewet oortree het deurdat hul visums verval het. Die twee het verlede week in die Louis Trichardt Streekshof verskyn waar hulle skuldig bevind is op beide klagte. Hulle is elkeen tot ‘n boete van R150 000 of agt jaar direkte tronkstraf gevonnis op die dwelmklag en ‘n verdere R5 000 of een jaar gevangenisstraf op die immigrasieklag. Verder het die hof ook die Staat se aansoek toegestaan dat die twee se vorige vonnis weer ingestel moet word. Dit beteken dat Unchenna en Okeke effektief 14 jaar gevangenisstraf opgelê is. Die hof het ook gelas dat die tronkstraf nie samelopend uitgedien sal word nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines