

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 April 2006
Die gewapende reeksrower, wat vir etlike weke al bedrywig is in die sentrale woonbuurt in Makhado (Louis Trichardt) is oënskynlik doelbewus besig is om ‘n skrikbewind te probeer vestig en is selfversekerd dat die polisie hom nie sal aankeer nie.
Sy astrante, uitdagende houding het duidelik na vore gekom tydens nog ‘n voorval verlede Donderdag, aan die noordelike punt van Burgerstraat, waar hy by ‘n woonhuis mense eers met sy vuurwapen teen die diefwering wakker geklop het, voordat hy met ‘n oorgehaalde pistool op hulle gerig, geld en selfone sommer so deur die venster geëis het.
Leon Furstenburg, wat saam met sy vriendin Elmarie Nel, tydens ‘n verhuising ‘n nuwe woonhuis help oppas het, het ‘n skrikwekkende ervaring beleef, toe die gewapende reeksrower hulle van geld en selfone beroof het en daarna met ‘n brutale, minagtende vloek in die nag verdwyn het.
“Ek het omstreeks 05:15 wakker geword van ‘n aanhoudende klopgeluid teen die diefwering voor die kamervenster,” sê Leon.
“Toe ek orent kom in die bed en begin fokus, sien ek die gesig voor die venster. Terselfdertyd sien ek hoe hy die pistool oorhaal en op my rig. Die venster voor die diefwering was blykbaar nie heeltemal op knip nie en hy het die venster oopgemaak, die gordyn weggetrek en my ewe kordaat teen die diefwering wakker geklop. Hy het geld en selfone geëis, maar daarop aangedring dat ek vir Elmarie met die selfone en beursie na die venster toe moet stuur. Hy het eers die beursie oopgemaak en die geld getel wat hy daar uitgehaal het. Toe het hy die leë beursie teruggegooi in die kamer in en in gebroke Engels al vloekend te kenne gegee dat hy nie bang is dat ons hom dalk sou kon uitken nie.”
Die wete dat die vermetele rower enige oomblik die sneller kan trek, maak deel uit van die pynlike magteloosheid in die situasie.
In dié betrokke woonbuurt is daar nou al vir etlike maande lank gereelde voorvalle van ‘n sluiprower wat mense in hul woonhuise kom treiter en hoofsaaklik op geld en selfone konsentreer. In die meeste gevalle kom die beskrywing van die booswig ooreen: ‘n swartman van middelmatige lengte en -liggaamsbou, met ‘n bruinerige gelaat en gladgeskeerde kop.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
