ADVERTISEMENT:

 

Slegs een of twee kriminele wat skrikbewind voer

 

News  Date: 21 April 2006

 

Is dit enkele kriminele wat die hele dorp in ‘n greep van vrees geskaak het?

Mnr. Alex Jandrell van President Steynstraat, wat al 11 keer onwelkome besoeke van die dorp se astrante inbreker ontvang het, meen dat dit slegs een of twee kriminele is wat ‘n skrikbewind voer.

“Eers het ek dit as pret en avontuur beskou om hom te probeer vang, maar noudat hy gewapen is, het die hele saak verander,” sê mnr. Jandrell.

Die jongste twee van die 11 voorvalle het op Woensdag en Donderdag, 12 en 13 April, plaasgevind. Woensdag om 04:15 is mnr. Jandrell van buite deur sy oop slaapkamervenster gekonfronteer om geld te bring. Dit was drie dae na die moord op mnr. Ben Fisser en mnr. Jandrell het aanvaar dat die man ‘n vuurwapen by hom het. Nadat mnr. Jandrell ‘n groot lawaai opgeskop het, het die dief verdwyn. Daarna het mnr. Jandrell besluit om met toe vensters te slaap. Donderdag omstreeks 11:15 was daar toe weliswaar weer ‘n gepeuter by die venster. Die honde het geblaf en ta het laat spaander.

“Die inbreker was vier maal binne in my huis en sewe keer buite. Hy het telkens stilweg verdwyn, maar verlede week het hy gepraat en in Engels gesê: ‘Bring the money here, bring the money here.’ Aan die begin was hy nie gewapen nie, maar nou is hy,” sê mnr. Jandrell. Hy het ‘n vermoede dat dit ook dieselfde persoon is wat mnr. Ben Fisser doodgeskiet en die Van den Bergs geskiet het, omdat die modus operandi dieselfde is. Hy voel egter dat inwoners nie nou in ‘n vreespsigose moet ingaan nie.

“Ons moet nou bid en vertrou dat die persoon gevang sal word,” sê mnr. Jandrell. Hy sê ook dat slaap met oop vensters nou iets van die verlede is en dat hulle die sitkamer se meubels geskuif het sodat hulle nie met hul rûe na die venster sit en televisie kyk nie.

“Palissade kan jou ook nie honderd persent beveilig nie; ons vertroue is nou totaal en al op die Here vir beskerming,” sê Jandrell.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines