ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Albert van der Merwe wat verlede week, tydens 'n gewapende roof drie keer in sy hotelkamer by die Lalapanzi Hotel geskiet is. Foto verskaf.

Rowers wond twee

 

‘n Besoeker aan Louis Trichardt het verlede week ‘n gewapende roof oorleef, ten spyte van die feit dat hy drie keer raakgeskiet is.

Mnr. Albert van der Merwe van Vereeniging, wat in diens is van een van die kontrakteursmaatskappye wat werk aan die Matoks-verleggings doen, is verlede Vrydagoggend in sy bed in sy hotelkamer by die Lalapanzi Hotel aangeval deur ‘n bende van vyf rowers. Die roof het omstreeks 04:00 plaasgevind.

“Ek het met my rug na die deur gelê, toe my foon lui en ek ‘n moerse geluid hoor. Toe ek omdraai om die foon te vat, toe voel ek iemand druk iets teen my rug vas, en toe ek kyk staan die persoon met die geweer – tussen my bed en die deur – en hy skiet nog twee skote,” het Albert Dinsdag telefonies aan die koerant vertel.

Die geluid wat Albert gehoor het, was die eerste skoot wat die rower afgetrek het.

Agter dié rower kon Albert nog twee rowers uitmaak. Een van hulle het Albert oorrompel en hom deur die gesig geslaan. “Toe het die ander een gekom en gevra, Where’s your money?” het Albert vertel. Die geld wat Albert by hom gehad het, ongeveer R900, was in sy rekenaarsak en een van die rowers is daarmee uit by die kamerdeur, terwyl die ander rower aangehou het om Albert aan te rand.

Dit was nie lank nie, of die rower wat die rekenaarsak gegryp het, was terug en wou weet waar die skootrekenaar is. Dit is aan hom uitgewys en die rower is daarmee ook weg.

“Toe het die een, wat my geslaan het, vir my gevra waar my selfoon is. Ek sê toe vir hom hier langs my, op die bedkassie. Hy vat toe my selfoon en hy en die een [rower] met die geweer is toe daar uit,” het Albert gesê.

Die rowers het egter omgedraai en teruggekom om die selfoon se laaier ook te vat. Hulle het Albert toe beveel om ten minste 20 minute te wag voor hy vir hulp mag roep.

Albert weet nie hoeveel tyd verbygegaan het nie, maar toe hy seker is die rowers is weg, het hy die lakens van hom afgegooi om op te staan en te gaan hulp soek. Die adrenalien het nog deur sy are gepomp en hy het nie besef dat hy raakgeskiet is nie.

“Toe ek opstaan, slaan ek neer langs die bed … Toe ek myself probeer optrek teen die bed, toe sien ek die hele bed is vol bloed,” het Albert gesê. Sy onderlyf was ook deurdrenk van die bloed.

Dit het hom amper ‘n uur gevat om hulp te ontbied. Sonder ‘n foon moes Albert toe kruip en val tot waar sy ander kollegas bly, sodat hulle hom kon help.

Een van die koeëls het Albert in sy linker bobeen getref. Die ander twee, sê Albert, het sy regter skrotum skrams gemis, terwyl die derde skoot by sy lies verby is. In totaal moes Albert 19 steke kry om die wonde weer te heg. Hy is in die Zoutpansberg Privaathospitaal behandel, en is oor die naweek ontslaan en huis toe gestuur sodat hy ten volle kan herstel. Albert se grootste hoop is dat die polisie die rowers sal kan vastrek.

Intussen soek die Makhado Polisie vir ‘n tweede groep gewapende rowers wat helder oordag ‘n besigheidsman beroof het langs die Thohoyandou-pad.

Verlede Donderdag, terwyl mnr. Soeb Patel onderweg was na Louis Trichardt, het ‘n groep rowers in ‘n BMW X5, Mercedes en Ford Ranger, hom ingejaag en van die pad afgedwing. Patel het sy winkel se winste van die vorige dag by hom gehad en was van plan om dit in Louis Trichardt by die bank te kom deponeer.

Naby die Albasini-afdraai het die rowers skote afgevuur, waarvan een Patel in sy regter enkel getref het. Nadat Patel se voertuig tot stilstand gekom het, het die rowers sy deur oopgeforseer. Hulle het bykans R15 000 by hom gegryp en in die rigting van Elim op die vlug geslaan.

In beide gevalle kon die polisie, sover die koerant kon vasstel, nog geen arrestasies maak nie.

News - Date: 17 April 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: