ADVERTISEMENT:

 

Die riool wat deur ‘n blokkasie van die onvoldoende infrastruktuur verstop is, kan nie dreineer nie.

Rioolprobleme ontwrig slagproses

 

News  Date: 21 April 2006

 

Die Makhado Munisipaliteit se voortslepende rioolprobleme het verlede week die slagtingsproses by Louis Trichardt Abattoir in Unikastraat ernstig ontwrig.

Probleme met blokkasies steek gewoonlik elke drie maande kop uit by die abattoir. Nou sê die abattoir hulle is moeg daarvoor dat hulle elke keer die skuld gegee word vir die blokkasies.

Verlede week was die probleem van ‘n verstopte rioolstelsel so ernstig dat ‘n onafhanklike gesondheidsinspekteur, Johan Graeme, die slagtingsproses moes stop.

Die munisipaliteit het ‘n kontrakteur se hulp ingeroep wat dadelik begin het om riool vanaf die abattoir se perseel uit te pomp. Na ‘n lang gesukkel met die munisipaliteit is daar selfs twee pompe verskaf, waar die abattoir net die brandstof vir die pompe moes voorsien het.

Volgens Graeme het hy die stakingsbevel teruggetrek, nadat toestande op die perseel verbeter het. Die voortslepende rioolprobleme is die oorsaak van ‘n ontoereikende infrastruktuur en die onvermoë om ‘n deeglike impak studie te kan doen, sê Graeme.

Graeme het aan die Zoutpansberger vertel dat die rioolprobleem twee kante het. Die eerste is die moeilike beheer van vlieggetalle op die perseel en die tweede is die opdam van rou riool op die terrein. Die werknemers moet deur die riool loop om by hul werksplekke uit te kom. Waar die varke se pensmis verwyder word, lyk die vloer soos ‘n klein visdammetjie van al die water.

Graeme sê die vlieggetalle is skokkend. Hy spuit self elke oggend vlieë dood, maar danksy die riool is die vlieë weer vinnig voltallig.

Die abattoir slag gewoonlik sowat 100 tot 150 beeste ‘n dag en indien die slagtingsprosesse gestaak word, kan dit ernstige finansiële verliese tot gevolg hê. Die beeste kan ook net van water voorsien word en indien hulle nie dadelik geslag kan word nie, moet hulle teen groot onkoste teruggeneem word na die betrokke plase toe. Graeme se persoonlike mening oor die huidige rioolprobleme is swak monitering en gebrekkige instandhouding. Hy het bygevoeg dat die Raad nie in staat is om die stelsel te kontroleer nie en indien probleme nie gerapporteer word nie, sal hulle onbewus daarvan bly.

Graeme sê die abattoir is moeg om die blaam te dra vir ‘n onvoldoende infrastruktuur en het bygevoeg dat die abattoir, sowel as die res van die gemeenskap, resultate wil hê en nie verskonings nie.

Mnr. Masindi Mapholi, die Makhado Munisipaliteit se Direkteur Tegniese Dienste, het aan die Zoutpansberger gesê dat daar na die abattoir se probleme gekyk word en dat hy instruksies gegee het aan sy werknemers om die probleem op te los. Mapholi het verder gesê dat die munisipaliteit besig is om na verskeie kontrakteurs se planne te kyk en dat hulle binnekort een sal aanstel vir die opgradering van die rioolstelsel. Hy sê dat ‘n moniteringsstelsel by die opgradering ingesluit sal word om dadelik probleme te identifiseer.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines