ADVERTISEMENT:

 

Nog fris en vars ... Die Tawwe Triegie Tankwa-stapgroep, afgeneem by die bekende 6,17 meter-hoë rooi posbus in Calvinia – die wegspring van die Tankwa Camino-staptog. Die groep het bestaan uit Ferreira Nel (knielend) en (agter van links na regs) Elsabé Stewart, Tielman Nel, Madeleine Nel, Esther Nel, Stoffel du Toit, Gerda du Toit en Dirk van den Berg. Foto verskaf.

Tawwe Triegies durf taai Tankwa Camino aan

 

‘n Groep avonturiers van Louis Trichardt het hulle April-vakansie op ‘n alternatiewe wyse afgeskop. Eerder as om te gaan rus, het hulle vanaf 31 Maart tot 9 April die uitdagende Tankwa Camino staptog vanaf Calvinia na Ceres aangedurf.

Die groep, gedoop die Tawwe Triegie Tankwa, het bestaan uit Stoffel du Toit, Gerda du Toit, Elzabé Stewart, Dirk van den Berg, Tielman Nel, Ferreira Nel, Madeleine Nel en Esther Nel.

Die Tankwa Camino is ‘n pelgrimstog van 256,6 km wat oor 10 dae van Calvinia tot in Ceres via die R355 (The Forgotten Highway) gestap word. Die roete neem stappers deur ‘n deel van die Karoo wat pronk met asemrowende mooi natuurtonele.

Die eerste dag se stap begin by die bekendste landmerk in Calvinia, die 6,17 meter-hoë rooi posbus. “Afstande wissel van 15 km tot 31 km met ‘n gemiddelde afstand van 27 km per dag wat gestap word,” het Elsabé na afloop van die stap gesê.

Die Triegie-stappers het deel gevorm van ‘n groep van 62 stappers van regoor Suid-Afrika wat dieselfde tyd aan die stap deelgeneem het. Van hierdie 62 kon vier stappers nie die roete voltooi nie, terwyl andere ‘n dag of twee uitgesit het. “Ons is trots om te sê dat die Tawwe Triegie Tankwa-groep almal die 10 dae voltooi het,” het Elsabé gesê.

Mens hoef darem nie alles vir die tien dae saam te dra nie. “Die organiseerders sorg daagliks vir water elke 5 km en saans word ons getrakteer met tradisionele Karoo-geregte,” het Elsabé gesê.

Volgens Elsabe was dag sewe se stap vir hulle die mees uitdagende, omdat ‘n yskoue suid-oostewind reg van voor gewaai het. “Dit het selfs die afdraandes soos werk laat voel! Die Tankwa Padstal het egter lafenis en skuiling na 15 km gebied en hier kon ons ook kontak met die buitewêreld maak deur van hul gratis wi-fi gebruik te maak,” het Elsabé gesê.

Die volgende dag het die groep aangedoen by die geskiedkundige Karoopoort-opstal waar daar voorberei kon word vir die negende dag se stap. “Dag 9 word die langste afstand (31,4km) afgelê, maar die grootste toets die dag was die donderstorm en wolkbreuk wat die nag verskeie stappers se tente verwoes of oorstroom het,” het Elsabé vertel.

Die groep stappers het verlede week na Louis Trichardt teruggekeer en sê hulle is geestelik verryk deur die ervaring. “Die Tankwa Karoo het sy merk op ons voete en in ons harte gelaat en ons siele tot boordens toe vol gevoed. Dit was ’n voorreg om nie net hierdie ervaring met my broers en susters te kon deel nie, maar ook met kollegas en vriende - hartsmense!” het Elsabé gesê.

News - Date: 22 April 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Die eindpunt ... 256,6 km en tien dae later het die Tawwe Triegie Tankwa-span Ceres bereik. Foto verskaf.

Die Tankwa Camino is ‘n pelgrimstog van 256,6 km wat oor 10 dae van Calvinia tot in Ceres via die R355 (The Forgotten Highway) gestap word. Die roete neem stappers deur ‘n deel van die Karoo wat pronk met asemrowende mooi natuurtonele. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: