ADVERTISEMENT:

 

Koos (regs) en Heidi Alberts van Louis Trichardt het It's Time meegemaak. “Dit was ʼn belewenis ... ʼn see van mense bymekaar, almal op hulle knieë wat bid tot ons Vader, uit hulle harte uit sing en 'Amen' skreeu dat die berge bewe,” het Heidi gesê. Die bulderende "Amens" kon van voor af in golwe gehoor word soos wat die klanktorings oor 'n afstand van 1.4 km versprei was. Foto verskaf.

Hoop herleef op groot skaal  

 

News  Date: 27 April 2017

 

“Niks anders en niks minder nie as ‘n wonderwerk!” So het een van die gemeenskapsleiers van Louis Trichardt die It’s Time biddag Saterdag in Bloemfontein beskryf.

Mense van Musina, Louis Trichardt en omgewing het die uittog na hierdie grootse en historiese geleentheid meegemaak. Hul was deel van die reuse skare, meer as ‘n miljoen landswyd na skatting, wat gereageer het op die oproep van die Suid-Afrikaanse evangelis, Angus Buchan.

“Daar was ‘n opgewondenheid wat woorde nie kan beskryf nie. Daar was ‘n gebrokenheid wat na opregte en diep afhanklikheid van God uitgeroep het. Daar was verootmoediging wat mense voor God laat buig het … Daar was blydskap en opgeruimdheid toe ons verdaag het, omdat mense ‘n ontmoeting met God beleef het. Ons het daar aangekom met ‘n gemeenskaplike nood, ons het daar weggegaan met ‘n gemeenskaplike hoop!” het pastoor Philip de Jager van die Volle Evangelie Kerk in Louis Trichardt gesê.

Jacques Kilian, boer en sakeman van Musina, was presies ‘n jaar gelede betrokke by ‘n plaasaanval op sy familie. “My uitkyk oor Suid-Afrika was baie negatief en orals waar mens lees is dit net moord en dood. Genoeg is genoeg!” Jacques se verwagting vir “totale herlewing vir ons land en sy mense’’ is egter groot. Hy en sy vrou, Bertina, was die organiseerders van ‘n groep van die omgewing wat ‘n bus van Venetia myn propvol gepak het.

Buchan het die antwoord vir die landsituasie verduidelik. “Hierdie byeenkoms gaan oor Jesus … Dit gaan nie oor swart en wit nie … (maar) oor goed en kwaad. Ons verkeer in ‘n geestelike geveg in hierdie nasie en die enigste manier waarop ons kan veg, is op ons knieë in gebed.”

Die skare wat geduldig vir ure in die warm Vrystaatse son gewag het en aanbiddingsliedere gesing het, was meer as gereed om te kniel. Heidi Alberts, sakevrou van Louis Trichardt, het dit so beskryf: “Dit was ʼn belewenis ... ʼn see van mense bymekaar, almal op hulle knieë wat bid tot ons Vader, uit hulle harte uit sing en 'Amen' skreeu dat die berge bewe...” Daarna het oom Angus gebid dat die Heilige Gees die mense moet vul. ‘Voel die Heilige Gees se wind,’ het oom Angus gesê. ʼn Ligte briesie het begin waai, naderhand kon jy die wind hoor totdat warrelwinde oral om ons begin opkom het. Dit was amazing,” het Heidi gesê.

Die hele byeenkoms op die plaas Wilde Als is talle kere as ‘n wonderwerk beskryf. “Ek was net so emosioneel soos Angus Buchan oor die grootsheid van die byeenkoms. Al die eer aan die Here, want dis alleenlik Hy wat alles moontlik gemaak het in die kortste moontlike tyd, net ses weke,” het Sarie Schnetler van Louis Trichardt, eggenoot van wyle ds. Louis Schnetler, gesê.

“Ek het nog nooit so iets in my lewe beleef nie - ‘n hele land wat saamstaan. Een van die aangrypendste oomblikke was toe ons die Vrydagaand nagmaal by die drie kruise gebruik het,” het Deon Svoboda, sakeman van Lous Trichardt, gesê.

Plaaslike gebedsgeleenthede  is ook  gereël, waaronder ‘n gesamentlike gebedsbyeenkoms by Laerskool Louis Trichardt.

 

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines