ADVERTISEMENT:

 

Pieter en Dee Pretorius van Kirstens Drukkers en Boekwinkel. Die egpaar sal noodgedwonge die besigheid moet sluit, aangesien Pieter se gesondheid dramaties agteruitgegaan het.

Pieter se gesondheid noop sluiting van deure

 

News  Date: 29 April 2017

 

Een van die oudste ondernemings in Louis Trichardt, Kirstens Drukkers en Boekwinkel, sal eersdaags noodgedwonge hul deure moet sluit.

Vir eienaars Pieter en Dee Pretorius, wat vir bykans 20 jaar die drukkery bedryf het en later ook die boekwinkel gekoop het, is dit nie ‘n maklike besluit nie. Hulle word egter daartoe gedwing weens ‘n skielike insinking in Pieter se gesondheid.

Die 68-jarige Pieter se gesondheid het die afgelope paar maande dramaties agteruit gegaan. Sy toestand het so verswak dat hy Sondag, 23 April, per vliegtuig Kaap toe gevlieg moes word vir mediese behandeling.

Volgens Dee het Pieter sowat twee-en-‘n-half maande gelede begin sukkel met kroniese pyn en naarheid. “Ná baie, baie toetse het hulle bevind dat Pieter se niere ingegee het,” het Dee Vrydag, kort voor hul vertrek, aan die Zoutpansberger gesê. Tussendeur haar hartseer en bekommernis oor haar man se toestand, het sy erg rondgeskarrel om ‘n paar finale bestellings drukwerk klaar te kry. “Dit gaan dol, want ek moet Pieter se werk ook doen,” het Dee gesê.

Min mense besef hoe erg Pieter se toestand verswak het. Met die koerant se aankoms by die drukkery het hy knus onder ‘n warm kombers op ‘n matras op die vloer gelê terwyl ‘n vriend vir hom gebid het. Tog het hy gereeld geglimlag en was hy opgeruimd.

Daar lê ‘n lang pad vir Pieter en Dee voor. Pieter sal by sy dogter in George tuisgaan waar hy sedert Maandag, drie keer per week vir die volgende jaar, dialise sal moet kry. “Ek gaan by my dogter in Saldanha tuisgaan en kyk of ek iets kan begin,” het Dee gesê. Prakties is dit net beter vir Pieter om in George te bly, naby aan waar hy mediese behandeling kan kry.

Buiten vir die bekommernis oor Pieter se gesondheid en die skielike dramatiese skuif Kaap toe, sit Dee nog met die kopseer van die drukkery en boekwinkel op Louis Trichardt. “Tans is die drukkery in die mark. Ek mik om einde Mei klaar te maak, maar as die besigheid nog nie verkoop is nie, sal ek kyk of ek nog so ‘n maand kan aangaan,” het Dee gesê.

Sou Kirstens Drukkers en Boekwinkel sluit, sal dit ‘n einde bring aan die geskiedenis van een van die streek se oudste privaatdrukkerye.

Die drukkery is in September 1958 deur oorlede oom Dick Kirsten begin op die perseel in Munnikstraat waar Louis Trichardt Electrical vandag is. Oom Dick was ‘n gekwalifiseerde drukker. Hy is deur sy buurman in Pretoria ingelig dat daar ‘n behoefte aan ‘n drukkery in Louis Trichardt bestaan. Wyle oom Dick is toe deur oorlede mnr. Hugh Sheldon deur die dorp geneem om die plek te besigtig.

In 1960 het die drukkery na ‘n perseel in die destydse Trichardtstraat (vandag Songozwistraat), waar Ocean Basket tans geleë is, verskuif. Kort daarna het dit duidelik geword dat daar ook ‘n aanvraag was na skryfbehoeftes, waarna wyle oom Dick se eggenote, wyle tannie Esther, begin het om skryfbehoeftes vanaf die drukkery se perseel te verkoop. Dit was die begin van Kirstens Boekwinkel.

Oom Dick en tannie Esther het saam die drukkery en boekwinkel bestuur, tot en met oom Dick se dood in 1997. Ná oom Dick se dood het tannie Esther alleen die fort gehou tot in 2001, toe haar seun, Johan, oorgeneem het as bestuurder van die boekwinkel.

Pieter en Dee het in 1997 na Louis Trichardt verhuis en het in 1999 Kirstens Drukkery gekoop. Die egpaar het ‘n paar jaar later, gedurende 2010/11, ook die boekwinkel oorgekoop nadat Johan besluit het om homself toe te spits op die restaurantbedryf met die opening van Ocean Basket. Meer onlangs het Pieter en Dee die drukkery en boekwinkel in 2014 verskuif na die gebou oorkant die munisipale karavaanpark in Songozwistraat.

Die egpaar het hul dank uitgespreek teenoor almal wat vir hulle, en spesifiek Pieter, gebid het en dit steeds doen. “Dankie, en alles van die beste vir julle,” het Pieter met ‘n glimlag gesê. “Ek dink dit is maar die Here se manier om vir my te sê: Gaan rus … jy het klaar gewerk,” het Pieter bygevoeg.

Persone wat belangstel om die besigheid te koop, of wat wil kom loer na die masjinerie, is welkom om vir Dee te skakel. Haar nommer is 062 031 8435.   

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines