ADVERTISEMENT:

 

Die inbrekers het letterlik van kamertjie tot kamertjie in die kerksaal gegaan. Die goed wat hulle wou steel het hulle behendig op een van die kerk se teetrollies gestoot tot in die mansbadkamer, waar hulle een van die vensters uitgebreek het om uit te kom. Foto verskaf.

Die duiwel bly maar listig en ontsien niemand nie

 

News  Date: 30 April 2017

 

Die duiwel bly maar listig en ontsien niemand wat misdaad betref nie.

Booswigte het Sondagaand die NG Kerk Soutpansberg-gemeente in Louis Trichardt se kerksaal geteiken deur in te breek en weg te kom met derduisende rande se toerusting en voorraad. Die inbraak is Maandagoggend ontdek, kort nadat die gemeente se koster die saal oopgesluit het.

Die koue en nat weer het duidelik nie die inbrekers afgesit om tot die uiterste te gaan om toegang tot die saal te kry nie. Op een of ander wyse het hulle bo-op die dak gekom, waarna hulle van die dakteëls gelig het en ingeklim het op die plafon. Hier het hulle vinnig die saal se alarmstelsel onskadelik gestel deur eers die kabel na die alarm en toe die kabel na die radiosender te knip.

Hierna het hulle deur die diensluik afgeklim tot in die saal en behoorlik “partytjie” gehou deur hulself dik te vreet aan die oorskiet van Sondag se doop-ete. “Buiten die melk wat hulle gevat het, het hulle ‘n koeldrank ook half gedrink en dit daar gelos vir ons. Dalk het hulle nie van die smaak gehou nie,” het mnr. John le Cornu van die gemeente se eiendomskommissie gesê.

Die inbrekers het letterlik van kamertjie tot kamertjie in die kerksaal gegaan. Die goed wat hulle wou steel, het hulle behendig op een van die kerk se teetrollies gestoot tot in die mansbadkamer, waar hulle een van die vensters uitgebreek het om uit te kom. “Dit lyk of hulle eers al die buitedeure van binne-af oopgemaak het, maar die diefwering het hulle verhoed om uit te kom,” het Le Cornu gesê.

Die booswigte het uiteindelik weggekom met die gemeente se oorhoofse projektor, duur klanksisteem, CD-speler en heelwat ander kleiner items. “In die saal het hulle ‘n paar items, soos ‘n stel luidsprekers, op die trollie gelos. Buite het ons die koster se ou naaimasjien gekry,” het Le Cornu gesê. Verdere skade is deur die inbrekers aangerig nadat hulle die groot vrieskas in die saal, waarin die gemeente se voorraad ten opsigte van hulle deurlopende vleisverkope gehou word, se slot oopgebreek het en hulself aan ‘n paar pakkies vleis gehelp het.

Le Cornu sê hulle is nie seker oor die omvang van die skade nie, maar dat dit etlike duisende rande gaan beloop. “Mens sien mos nie dadelik wat alles weg is nie,” het Le Cornu gesê.

Alhoewel die gemeente versekering het, laat die voorval ‘n wrang smaak in die mond. Met hul basaar om die draai moet daar nou haastig reëlings getref word ten opsigte van die gesteelde klankstelsel. “Dit gaan meer oor die ongerief van die inbraak en dit wat gesteel is,” het Le Cornu gesê. Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Roshini Pakkiree het Woensdag die voorval bevestig, maar gesê dat die polisie nog geen arrestasies in verband met die inbraak gemaak het nie.

Die inbraak by Soutpansberg-gemeente was nie die enigste van die naweek in die dorp nie. Twee mans het vroeg Saterdagoggend hul weg tot binne-in Game in Songozwistraat gevind deur dakplate oop te knip en in die winkel af te klim. Dit was egter nie vir hulle ‘n suksesverhaal nie.

Volgens inligting aan die koerant verskaf het hulle omstreek 02:00 ingebreek, maar ‘n paar minute later die alarm geaktiveer. Met dié is die winkelbestuur, sekuriteitsmaatskappy, polisie en dorpswag almal na die sentrum ontbied. Die twee booswigte het nie ‘n kans gehad nie en is in die winkel gearresteer.   

Wat dié inbraak betref, het kapt. Pakkiree bevestig dat die twee mans, James (38) en Moses Simango (31) van Zimbabwe, Maandag in die hof hier verskyn het op klagte van huisbraak. Hulle saak is uitgestel tot 2 Mei vir verdere ondersoek. Intussen sal hulle in aanhouding bly.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines