ADVERTISEMENT:

 

Gesoek - Identikits van verdagtes in misdaadvlaag bekendgestel

 

News  Date: 28 April 2006

 

Dit gaan heelwat beter met mev. Petro van den Berg en sy sal dalk nog voor die naweek uitgeplaas kan word na ‘n gewone saal in die hospitaal.

Haar vinnige herstel nadat sy verlede week in ‘n aanval in die kop gewond is, word as merkwaardig beskryf. Haar man, André, verwag om eerskomende Maandag weer tuis te wees en die volgende dag sy werk te hervat.

Lede van die gesin het Woensdag laat weet dat Petro sedert Dinsdag self asem haal. Hoewel sy nog steeds in die intensiewe sorgeenheid verkeer, is die kopverbande af en kon sy Dinsdag ook reeds ontkoppel word van die ventilator en regop sit in ‘n gemakstoel.

“Sy sien. Haar sig is normaal. Sy herken ons en praat normaal, hoewel sy nog baie verward is. Daar is beweging in haar linker been. Op die oomblik is dit bloot haar linkerarm wat nog nie beweeg nie. Die dokter sê dit behoort reg te kom met fisioterapie,” het mev. Linda Naudé, die egpaar se dogter, Woensdag gesê. Daar is ‘n moontlikheid dat mev. Van den Berg, met haar huidige tempo van herstel, dalk volgende week na Polokwane oorgeplaas kan word, om nader aan die huis te wees.

Intussen het die polisie die afgelope week identikits vrygestel van twee mans wat vermoedelik betrokke is by die huidige vlaag misdaad, asook die moord op mnr. Ben Fisser en die poging tot moord op die Van den Berg-egpaar.

Die eerste verdagte (regs bo) is ‘n kort, goedgeboude, jong swartman met ‘n effens ronde gesig en kort hare. Die tweede verdagte (regs onder) is ook kort, baie fiks en van matige bou. Hy het ook kort hare en is vermoedelik gewapen. Hy praat na bewering baie slegte Engels. Persone wat die polisie behulpsaam kan wees met hul ondersoek kan vir s/insp. Rambau skakel by tel. 072 536 1604 of s/insp. Tshikotshi by (015) 519 4300.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines