ADVERTISEMENT:

 

Digby die 700 inwoners het verlede week die massavergadering bygewoon wat uitgeroep is om die onaanvaarbare misdaadvlaag in die dorp aan te spreek.

Inwoners neem verantwoordelikheid vir eie veiligheid

 

News  Date: 28 April 2006

 

Besorgde inwoners het verlede Donderdag die dorp se grootste saal volgepak tydens die massavergadering in verband met die geweldsmisdaad in Louis Trichardt.

“Dis nie nodig dat Louis Trichardt die moord hoofstad van Suid-Afrika genoem word nie. Ons moet beheer neem oor misdaad,” is op die vergadering gesê. Die vergadering van inwoners is saamgeroep op inisiatief van die twee NG-gemeentes.

“Ons aanvaar verantwoordelikheid vir ons eie veiligheid,” was die eerste belangrike besluit wat geneem is deur die vergadering wat deur bykans 700 mense bygewoon is.

“Ons eis ons grondwetlike regte op nasionale, provinsiale en plaaslike regering op,” was nog ‘n verreikende besluit. Daar is ook besluit om saam te werk met die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum en om ‘n goeie en effektiewe polisiestasie daar te stel. Van die munisipaliteit sal dienste en regte wat die gemeenskap toekom, vereis word. Daar is ook besluit om ‘n struktuur te stig wat hom sal bemoei met die veiligheid van die dorp en buurt.

Die struktuur se taak sal wees om goeie leiding te gee en aan hulle is die mandaat gegee om fondse in te samel en aan te wend, asook vrywilligers te werf en dié op te volg wat hulself vrywillig aangebied het.

“Sowat ‘n derde van die vergadering het hul tyd aangebied en ‘n derde hul finansiële bydraes,” het die voorsitter van die vergadering, ds. Willem Boshoff, gerapporteer.

Met die aanvang van die vergadering het ds. Boshoff gesê dat die sluipmoord op wyle Ben Fisser en die geweldsmisdaad in die dorp die direkte aanleiding tot die saamroep van die vergadering was. “Dit kan nie so aangaan nie,” het die leraars gesê.

Dit is duidelik gestel dat die vergadering nie bedoel is om te polariseer nie of rassehaat aan te jaag nie, maar om oor misdaad te praat en ‘n plan teen misdaad in werking te stel. Die motief is nie om te haat of wraak te neem of die reg in eie hande te neem of emosie op te sweep nie. Dit is ook nie reklame vir enige besigheid wat verband hou met sekuriteit nie, maar ‘n dinkskrum om by ‘n plan uit te kom wat prakties en volhoubaar is om die geweldsmisdaad te stuit.

Die algemene gesindheid by die vergadering was positief, met emosies wat hier en daar hoog geloop het. Bykans elke spreker het beklemtoon dat die dorp se veiligheid nie aan ander oorgelaat kan word nie. Verskeie striemende aanvalle is op die plaaslike polisiestasie gemaak, hoewel ook erkenning gegee is aan diegene daar wat hard werk en effektief is.

Mnre. Fritz Ahrens, Dries Joubert en André Naudé het namens die plaassteunkringe insette gelewer. Die groot sukses en die afname in plaasaanvalle kan toegeskryf word aan die hoë persentasie van betrokkenes wat meewerk en patrolleer. Die gevestigde steunkringe het hulle opleidingsvaardighede aangebied.

Die lede van die vergadering wat gekies is om op die struktuur te dien, is mnr. André Naudé, mev. Jana Smith, dr. Philip Venter, ds. Willem Boshoff, dr. Johan van Rensburg en mnre. Leon Koen, Hennie Coetzee, ZC Pretorius, Peet Visser, Essie Esterhuizen, Gert van Zyl, Gordon Spence, Hennie Cordier, Johan Nagel, Fanie Geyer en Mike Vermaak.

‘n Opvallende kenmerk van die vergadering was die afwesigheid van ander kultuurgroepe.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines