

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 April 2006
Die gewilde skoolhoof van Laerskool Levubu, mnr. Nico Botes, is verlede Vrydag op Thohoyandou oorlede. Hy het in ‘n handelsbank aan ‘n massiewe hartaanval beswyk. Die begrafnis was Woensdag op Levubu.
Mnr. Botes was sedert 1991 verbonde aan Laerskool Levubu en het sy plek volgestaan as intelligente, toegewyde onderwysman en veelsydige gemeenskapsleier met ‘n onderhoudende en aangename omgang met groot en klein. Hy was bekend as ‘n gelowige mens met sterk beginsels en waardes en met ferm menings oor dit waarin hy geglo het.
Hy is op 17 Mei, 1954, op Viljoenskroon gebore, waar hy sy laer- en hoërskool opleiding voltooi het. Na skool was hy vir twee jaar werksaam by die destydse Gevangenisdiens. Daarna het hy hom by die Normaalkollege van Pretoria as onderwyser bekwaam. Hy het sy onderwysloopbaan by Laerskool Wierdapark en Andries Brink begin. Te midde van sy betrokkenheid by sy kerk, Afrikaanse kultuurliggame en die Noord-Transvaalse Skole Rugbyvereniging, het hy verder studeer en die grade B.A en B.Ed (Onderwysbestuur) aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy het ook ‘n diploma in jeugweerbaarheid verwerf en ‘n sportafrigtingskursus met welslae deurloop.
Vanaf 1986 tot 1990 het hy vir ‘n tyd lank die onderwys verlaat om in die Noordwes Vrystaat te gaan boer. Hy het sy swaer in die boerdery by Bothaville bygestaan. Gedurende die tyd was hy ook in leidinggewende hoedanigheid betrokke by georganiseerde landbou. Hy het onder meer gedien op die Distrikslandbou-uniebestuur en was ook betrokke by Laerskool Humansvlakte.
Mnr. Botes het op 9 Januarie 1991 ‘n onderwyspos by Laerskool Levubu aanvaar. Hy was gedurende hierdie tyd aktief betrokke by sportafrigting en het ook Levubu se eerste Vrugtefees in Junie 1994 aangevoer. Hy het by die skool aanvanklik soms as hoof waargeneem en is aan die begin van 1995 as skoolhoof aangestel. Ongeag ‘n hartomleidingsoperasie in Oktober 2002, het hy aktief betrokke gebly by alle skoolbedrywighede.
Sy kollegas het vandeesweek gesê: “Hy was ‘n toegewyde onderwyser, vir wie onderwys alles was. Die skoolterrein was sy plaas, waar hy voortdurend persoonlik besig was om herstel- en instandhoudingswerk te doen. Op Levubu se feeskomitee en as ouderling van die Hervormde kerk het hy ‘n baie prominente rol gespeel. Hy sal lank gemis word deur die hele gemeenskap van Levubu.”
Mnr. Botes laat sy vrou Ria en drie kinders, Nico, Wikus en Elani, agter.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
