ADVERTISEMENT:

 

Wyle Jana Joubert (18).

Matriekleerling sterf na botsing met weermagvoertuig

 

News  Date: 28 April 2006

 

Die 18-jarige Jana Joubert, ‘n matriekleerling van Hoërskool Eric Louw in Musina is Saterdag (22ste) omstreeks 22:45 in die Little Company of Mary hospitaal oorlede, nadat sy vroeër die dag in ‘n botsing met ‘n militêre voertuig betrokke was.

Jana het die oggend net voor 08:00 vanaf haar deeltydse werk by Fiju Films gou terug huis toe gegaan met haar bromponie om ‘n kamera te gaan haal, toe ‘n weermagvoertuig die stopstraat in Frostlaan wat kruis met Emmeryweg verontagsaam het en haar getref het.

‘n Erg-beseerde Jana is dadelik in die hospitaal op Musina opgeneem, maar nadat sy gestabiliseer is, is sy die middag per ambulans vervoer na die Little Company of Mary hospitaal in Pretoria. Die gemeenskap het vinnig meegehelp om ‘n fonds te reël om die koste van die ambulans en die hospitalisasie in Pretoria te dek, siende dat die ouers nie oor ‘n mediese fonds beskik nie.

Daar het haar hart en verskeie ander organe ingegee onderwyl die mediese personeel met toetse besig was. Weens die ernstige besering aan die agterkant van haar kop, moes die hart soveel meer ingespan word om te kompenseer vir die breinbesering. Dit kon doodeenvoudig nie volhou nie en het gaan staan.

Mnr. Deon Joubert het in ‘n onderhoud met die pers gemeld dat Jana se beenmurg en ander weefsel geskenk is vir die gebruik van 16 tot 18 kankerpasiënte. Hy het ook gesê dat dit ‘n groot troos is om te weet dat sy op dié wyse kon bydra om ander lewens te verleng.

Tydens saalopening Maandagoggend by Hoërskool Eric Louw is ‘n huldigingdiens ter nagedagtenis aan Jana gehou. Me. Alta Coetzee, wat die opening waargeneem het, het as hooftema vir haar skriflesing gefokus op die woorde van Rick Warren uit sy boek, The Purpose Driven Life, “that life is a preparation for eternity”.

Die gebeure in die saal is op video opgeneem om later aan die ouers te oorhandig as ‘n huldeblyk. ‘n Boodskapboek waarin die skoliere en veral Jana se vriende woorde van vertroosting aan die gesin kan opdra, is by die skool aangebring om ook aan die gesin te oorhandig.

In een van Jana se laaste Afrikaanse opstelle skryf sy oor die tema La Vita a Bella, Italiaanse woorde wat die mooi van die lewe besing. Sy skryf: “Stap in die veld en beleef elke tree met ‘n nuwe siening. Voel die son se strale op jou gesig en wees bly jy lewe nog ‘n dag. Staan in die skaduwee en ervaar die wind wat soos engeltjies in jou hare speel ... As ons met hierdie gesindheid die natuur om ons (ervaar), word dit wat mooi is nog mooier ... Dink en sien positief en dit word al hoe makliker om in die sondige wêreld te lewe.”

Wanneer ‘n mens hierdie woorde van Jana lees, verstaan ‘n mens waarom soveel mense, tot in die Kaap, met Jana se heengaan gesimpatiseer het, dat soveel mense ‘n hand van liefde uitgereik het na die bedroefde gesin. In dieselfde opstel noem sy dat die wêreld so sensasiebewus geraak het en dat “skokkende nuus (beter) verkoop as mooi dinge”. Mag die skokkende hoofopskrifte van haar tragiese dood die gemeenskap oproep om te fokus op die mooi dinge in die lewe.

Jana se begrafnisdiens is op Saterdag, 29 April, om 11:00 vanuit die N.G. Musina-gemeente.

 

Written by

Colleen van Staden

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines