ADVERTISEMENT:

 

Gemeenskap sal moet saamstaan as plan gaan werk

 

News  Date: 28 April 2006

 

Sommige inwoners wat die massavergadering teen geweldsmisdaad verlede week bygewoon het, het hulle gevoel na afloop van die vergadering weergegee.

“Ek dink sulke vergaderings dien ‘n groot doel. My gevoel is egter, as ons misdaad wil bekamp, moet ons die hele gemeenskap betrek,” sê Frikkie van den Berg. “Ongelukkig was daar ‘n paar persone met politieke agendas. As ons nie as gemeenskap saamwerk nie, gaan dit nie werk nie. Die misdaadbekamping moet buite politieke en kerkverband staan. Ons moet hande vat en misdaad saam beveg.”

“Dit moet op ‘n geestelike en broederlike vlak hanteer word. Rassisme moet glad nie ingesleep word nie,” sê Simon Miller. “Ons moet onthou om nie net vir ons beskerming te bid nie, maar ook dat die harte van die misdadigers sal verander.”

Mnr. Corrie Vermaak sê dat die besluit om daadwerklik aksie te neem en iets te doen, baie goed is. Hy stem saam met sprekers op die vergadering dat die inwoners eienaarskap van dorp moet terugneem en nie kan terugsit en verwag dat ander dit moet doen nie. “Die aksie moet net nie weer platval wanneer die skelm vasgetrek is nie en wanneer dit moeite word om in die oggend twee-uur op te staan vir patrollie nie,” sê Vermaak. Hy sê ook dat die aksie in samewerking met die SAPD moet plaasvind.

Frikkie sê ook dat die inwoners ‘n daad van aksie wil hê. Hy stel voor dat die komiteelede ander moet betrek om van huis na huis te gaan. “Bure moet aan mekaar voorgestel word en moet mekaar se telefoonnommers neem. Verder kan mense ook vir dié wat leiding neem, bid en nie verwag hulle moet alles doen nie.”

Een van die organiseerders van die vergadering, ds. Willem Boshoff, het die dag na die vergadering gesê dat hy baie positief voel oor die vergadering. “In gesprekke na die vergadering het ek ‘n groot vasberadenheid opgemerk en ‘n eenstemmigheid dat die gemeenskap self ‘n verskil moet maak.” Ds. Boshoff sê dat die uitdaging gaan wees om momentum oor die lang termyn te behou. “Die toets vir hoe effektief dit gaan wees sal ons oor ses maande kan sien.”

Die volhoubaarheid van die patrolliebeurte is vir me. Andel Greyling ‘n probleem. “Ons gaan met ‘n sekuriteitsmaatskappy werk. Dit is my persoonlike siening.” Me. Greyling sê ook dat sigbaarheid in die omgewing belangrik is. Buurtwag motors sowel as sekuriteitsmaatskappye se motors moet rondry. Sy sê dat sekuriteitsmaatskappye in die dorp kan saamwerk. “Hulle het die nodige kennis en opleiding en kan ‘n prys per hoeveelheid mense uitwerk.”

Mnr. Vermaak het gevoel dat die buurtwag onmiddellik moet begin en dat daar nie weke moet verlore gaan met beplanning nie.

‘n Paar inwoners wat nie die vergadering bygewoon het nie, sê dat hulle bang was dat hulle onwelkom sou wees.

Mev. Inga Gilfillan, wat graag die vergadering wou bywoon, maar gaste moes onthaal, sê dat die staat die inwoners moet beskerm en dat hulle gefaal het. In verband met die geweldsmisdade het sy net een vraag: “Is die skelm al gevang?”

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines