ADVERTISEMENT:

 

Twee munisipale werkers met die drie bosluisvoëls wat Dinsdagoggend se kragonderbreking veroorsaak het. Twee het hul skokervaring oorleef, maar die een geveerde vriend was nie so gelukkig nie.

Geveerde vriende veroorsaak kragonderbreking

 

News  Date: 28 April 2006

 

Drie geveerde vriende het vroeg Dinsdagoggend vir baie inwoners ongerief veroorsaak, nadat hulle verantwoordelik was vir die onderbreking in kragtoevoer wat die hele dorp en omstreke in die duister gelaat het.

Terwyl talle nog besig was om te ontwaak, was drie groot wit bosluisvoëls besig om doodrustig te soek na hul vroeë-oggend insekhappie by die dorp se hoof substasie aangrensend tot die maksimum sekuriteitsgevangenis.

Dit is nie seker wat presies gebeur het nie, maar klaarblyklik het iets die drie voëls die skrik op die lyf gejaag. Met die opvliegslag het hulle teen die hoof geleier vasgevlieg en ietwat sleg daarvan afgekom. Van die een bosluisvoël het daar amper net ‘n rokie van oorgebly – hy het sleg verkool. Die twee ander is beseer, maar het hulle skokervaring oorleef.

Lede van die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling was vinnig op die toneel. Gelukkig genoeg het beide die munisipaliteit en Eskom se brekers uitgeskop, wat verhoed het dat verdere ernstige skade aan die substasie aangerig kon word. Die kragtoevoer kon vroeër weer herstel word, maar daar moes eers weens veiligheidsredes gewag word vir Eskom se hoofkantoor voor die toevoer weer herstel kon word.

Volgens ‘n munisipale woordvoerder was daar geen opsigtelike skade nie en sal die substasie deeglik ondersoek word met die volgende beplande afsluiting. Op ‘n vraag wat gebeur het met die oorlewende twee voëls is daar genoem dat hulle na die plaaslike DBV geneem sou word.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines