

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 May 2017
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het verlede week gewaarsku dat suidelike Afrika tans ‘n toename ervaar in die gerapporteerde gevalle van malaria.
In teenstelling met verlede jaar se droë toestande, word die toename toegeskryf aan vanjaar se goeie reën en warm, vogtige toestande. Volgens die NIOS was daar byna ‘n 50% toename in Suid-Afrika in gerapporteerde gevalle van malaria, naamlik 9 478 gevalle, in teenstelling met die 6 375 gevalle in 2016.
Net minder as die helfte van vanjaar se gevalle is in Limpopo aangemeld. Die rede is tweeledig. Volgens die NIOS was die redes die wisselvallige en laat reënval en ondoeltreffende huishoudelike spuitprogramme deur die Departement van Gesondheid.
Die meeste malaria-gevalle is aangemeld in die Thabazimbi- en Lephalale-omgewing, maar sedert 22 Maart is daar nog nie weer gevalle aangemeld nie.
In die Soutpansberg-streek kom malaria gewoonlik voor gedurende die reënmaande tussen September en Mei. Vanaf Januarie tot April is die risiko om malaria op te doen die hoogste. Dit is juis die onlangse goeie reëns in die streek wat die NIOS genoop het om ‘n waarskuwing uit te reik vir inwoners om ekstra paraat te wees as dit kom by hul gesondheid.
Plaaslik het malaria onlangs in Mopani uitgebreek, maar volgens die NIOS word die gevalle minder soos wat die wintermaande naderkom.
Die NIOS het egter gewaarsku dat hulle hierdie jaar ‘n toename ervaar het in die gevalle van “taxi” malaria. Dit is wanneer pasiënte nie plaaslik, in hul eie woongebied, malaria opdoen nie, maar van ‘n muskiet wat saam met reisigers vanuit ‘n hoë-risiko gebied na ‘n lae-risiko gebied kom. “Iemand wat onverklaarbare simptome van koors, geelsug (geel verkleuring van die oë) het en/of hul bewussyn verloor, moet dadelik vir malaria getoets word, selfs al het daardie persoon nie onlangs gereis na ‘n hoë-risiko malaria gebied nie,” het die NIOS gewaarsku.
Malaria kan behandel word, mits dit vroeg gediagnoseer word. Dit is egter moeilik, omdat malaria en verkoue simptome (naarheid, braking, kouekoors en sweet, koors, moegheid, spierpyne en hoofpyn) baie met mekaar ooreenstem.
Die NIOS se raad is om simptome te laat toets by ‘n dokter as dit voorkom gedurende die eerste maand nadat ‘n pasiënt teruggekom het van 'n malariagebied. Plaaslik kan inwoners ‘n U-Test malariastelletjie kry (R61 by Da Silva Apteek) en hulself by die huis toets vir malaria. Die NIOS waarsku dat ‘n negatiewe toets nie ligtelik opgeneem moet word nie, veral nie as die simptome voortduur nie. Dan moet ‘n dokter eerder geraadpleeg word.
Dinsdag het Limpopo se Departement van Gesondheid ook gewaarsku dat daar ‘n toename in malariagevalle was by die Siloam, Donald Fraser, Malamulele en Nkhensani hospitale.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
