

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 May 2006
“Alles was aan ons kant … ons was baie gelukkig.”
Met dié woorde som Marinda Marcos haar en haar man, Luis, hul skokontbering van Saterdag, 29 April, op. Wonderbaarlik oorleef die Marcos-egpaar van Rio Foodzone ‘n genadelose aanslag op hul lewens.
Die gebeure wat so amper die aand die egpaar se lewens gekos het, het kort na toemaaktyd Saterdagaand in die parkeerarea voor die egpaar se supermark begin ontvou. Luis het opgemerk dat iemand twee van sy bakkie se bande met ‘n skerp voorwerp stukkend gesteek het. Die egpaar was dadelik agterdogtig. Marinda het haar selfoon byderhand gehou, terwyl Luis gereed gesit het met sy rewolwer, terwyl hulle in Marinda se voertuig na hul plaaswoning op die Roodewalpad begin ry het. ‘n Paar weke vantevore is “aanvalstekens” voor hul woning uitgepak, maar die tekens is ‘n week voor hul byna noodlottige aanval verwyder.
Skaars ‘n kilometer uit op die Roodewal-grondpad het ‘n viertrekbakkie voor hulle ingejaag en die egpaar tot stilstand gedwing. Een van vier gemaskerde verdagtes het afgespring en, sonder om ‘n woord te sê, op die Marcos-egpaar begin skiet.
Gelukkig het die egpaar kopgehou. Marinda, wat bestuur het, het probeer wegjaag, terwyl Luis sommer deur die toe passasiersvenster op die gewapende aanvallers losgebrand het.
Dit is duidelik dat Luis se “gewapende” reaksie die aanvallers onkant betrap het. Sommer net daar het hulle weggejaag en hul makker agtergelaat. Dié het die bosse in verdwyn en dit sou eers later aan die lig kom dat hy inderdaad gewond is. Die booswig het ‘n bloedspoor agtergelaat wat deur die polisie tot ‘n naburige plaas gevolg is, waar die spoor verloor is.
Die verdagtes het na die skietery teruggejaag dorp toe. Ongeveer 50m voor die plek waar die grondpad in Tshirululunistraat inkom, het hulle voertuie geruil en in ‘n Bantam-bakkie die nag in verdwyn. Die voertuig wat agtergelaat is, was gesteel en is intussen verbind met verskeie geweldsmisdade in die Thohoyandou-omgewing.
Die Marcos-egpaar het dadelik hulp ontbied.
Hulle is te hulp gesnel deur mnr. Peet Visser en dr. Philip Venter van Soutpansberg Sektorpolisiëring. Na gesprek met die Marcos-egpaar, kon dr. Venter dadelik die polisie help met ‘n beskrywing van die verdagtes se voertuig waarmee hulle ontsnap het. Dit was te danke aan ‘n vroeëre observasie wat dr. Venter kort voor die skietery by die egpaar se supermark gemaak het. Hy het die verdagtes se voertuig, ‘n Bantam-bakkie, voor die supermark opgemerk. Toe hy na die skietery hoor hoe vertel mnr. Visser van ‘n soortgelyke voertuig wat sopas by hom verbygejaag het terwyl hy onderweg was na die misdaadtoneel, het dr. Venter twee en twee bymekaar gesit.
Die polisie kon dadelik begin soek na die voertuig en binne 20 minute is die voertuig in Eltivillas opgemerk. Die polisie het inbeweeg en drie verdagtes is aangekeer.
Die drie, Adam Masidwali (34) van Madombidza, David Mabada (35) en Frans Netshiombori (26) van Mavhuka, het Dinsdag hier in die hof verskyn. Hulle saak is uitgestel tot 9 Mei wanneer hulle eers toegelaat sal word om ‘n borgsaansoek te bring. Die Staat het reeds aangedui dat hulle die aansoek gaan teenstaan. Intussen bly die mans in aanhouding.
Die arrestasie van die verdagtes was grootliks te danke aan die fyn observasie van inwoners. Die gewonde vierde verdagte was teen druktyd nog nie aangekeer nie. Marinda sou eers na die voorval sien hoe gelukkig sy was om nie doodgeskiet te word nie. Een van die koeëls het deur die windskerm getrek, reguit op pad na haar toe, maar het die instrumentepaneel getref en weggeskram.
Die Marcos-egpaar het hul dank uitgespreek teenoor mnr. Visser en dr. Venter vir hul flinke reaksie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
