

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 May 2006
Meer lig is die afgelope week gewerp op die dood van een van die provinsie se beste speurders, Insp Mias Zwarts van Musina, agt jaar na sy afsterwe.
Insp. Petrus Sinthumule het verlede op Makhado (Louis Trichardt) in die Streekhof verskyn op aanklag dat hy insp. Zwarts vermoor het. Sinthumule was ‘n kollega en vertroueling van insp. Zwarts.
Sinthumule is gearresteer nadat hy na bewering aan ‘n mede kerkganger gebieg het dat insp. Zwarts by hom “spook” en by sy bed kom staan as hy slaap omdat hy hom vergiftig het. Dié inligting is dadelik aan die polisie deurgegee.
Die Staat het in 1999 insp. Zwarts se lyk opgegrawe vir forensiese toetse, na volgehoue druk van insp. Zwarts se eggenoot. Daar is geglo dat gif in insp. Zwarts se teekoppie gegooi is. Hy is in 1997 oorlede. Latere toetse het duidelik getoon dat sianied anioon in inps. Zwarts se liggaam teenwoordig is.
Die motief vir insp. Zwarts se dood is duister, maar die vermoede bestaan dat hy vermoor is aangesien hy besig was met ‘n baie sensitiewe ondersoek na polisiekorrupsie, wat ingesluit het gewapende roof. Voor sy dood is daar selfs by die kantoor ingebreek en verskeie persoonlike items en van sy notas is gesteel.
Sinthumule se saak is uitgestel na 26 Mei. Die hofsaak beloof om baie lig te werp op die omstandighede wat gelei het tot insp. Zwarts se dood.

ADVERTISEMENT:
