ADVERTISEMENT:

 

‘n Pensioenaris van die dorp het die afgelope maand die skok van sy lewe gekry toe die munisipaliteit verkeerdelik ‘n munisipale rekening van digby die R22 000 vir hom gestuur het.

Inwoners ontstoke oor "belaglike" rekenings

 

News  Date: 03 September 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – “Hulle moet elke einde van die maand hartpilletjies saam met ons water- en ligterekeninge uitstuur! Jy weet nooit wanneer jy die ‘skok van jou lewe’ gaan kry nie.”

Dit was die opinie van ‘n plaaslike belastingbetaler wat glad nie dink dié idee is so vergesog nie, veral as mens kyk na die “belaglike” bedrae geld wat deur die Raad vanaf inwoners vir water- en elektrisiteitsverbruik geëis word nie. Dit verwys nié na gevalle van werklike verbruik nie, maar na gevalle waar inwoners buitensporige hoë munisipale rekeninge ontvang vanweë “foute” op rekeninge.

Uit verskeie oorde hoor mens dat die probleem te wyte is aan die nuwe meterlesers wat verkeerde lesings neem. In een geval het ‘n pensioenaris hierdie maand ‘n munisipale rekening van digby die R22 000 ontvang, dit nogal vir ‘n residensiële erf (onthou die hartpilletjies!). Later het dit aan die lig gekom dat die meterleser ‘n verkeerde meterlesing geneem het en die pensioenaris se normale verbruik van ongeveer 20 kiloliter water het skielik opgeskiet na 5005 kiloliter water vir die maand. Sy rekening vir waterverbruik alleen was in die omgewing van R19 000.

Alhoewel dié probleem, asook die talle soortgelyke probleme telkens reggestel word, is inwoners met reg ongelukkig oor die feit dat die Raad kan toelaat dat die situasie voortduur. Meer ontstellend is beweringe dat munisipale beamptes inligting ten opsigte van die meterlesings op rekenaar wysig. Die situasie het weliswaar ‘n punt bereik waar inwoners weier om die Raad te glo wanneer hulle sê daar heers geen administratiewe chaos in die Raad se rekeningafdeling nie.

Die probleem is nie nuut nie. In Mei vanjaar het inwoners met soortgelyke klagtes vorendag gekom. In daardie stadium reeds het die Raad se Direkteur van Finansies, mnr. Dan Masengana, erken dat hulle probleme ondervind, maar dat daar geen administratiewe chaos in die afdeling heers nie. Tog het die situasie duidelik nie verbeter nie as daar gekyk word na die talle klagtes wat steeds instroom.

Die Raad se Direkteur van Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala, het Woensdag by navraag gesê dat hy nie bewus is van enige probleme met munisipale rekeninge nie. Hy het egter die publiek die versekering gegee dat hy die aangeleentheid sal ondersoek en indien nodig, die nodige stappe neem om die probleem op te los.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines