ADVERTISEMENT:

 

Die Mosambiekse spoegkobra met die vanglus netjies agter sy kop. Vandag seil hy steeds iewers rond op die kleinhoewe van Ben van der Waal.

Nie alle slange is van die duiwel nie ...

 

News  Date: 05 May 2006

 

Slange is nie monsters nie en spoegkobras spoeg nie altyd nie …

Ben van der Waal se drie onlangse ontmoetings met slange het meestal gunstig verloop vir die slange. ‘n Mosambiekse spoegkobra was die eerste meneer wat sy opwagting op Ben se kleinhoewe op die Vondelingpad gemaak het.

“Ek kon dadelik die slang van omtrent 140cm, maar baie dik, eien as ‘n Mosambiekse spoegkobra. Dit is buite die woonstel van Marius de Bruin op ons kleinhoewe opgemerk,” sê Ben.

Ben het die spoegkobra met sy tuisgemaakte slangvangstok in die hand gevolg. Sy doel was om die slang uit die tuin te verwyder sonder om dit dood te maak.

“Ek het ook ‘n veiligheidsbril opgesit om moontlike gif (spuug) in my oë te voorkom. Die slang is toe in Marius se kamer in. Ek het dit gevolg tot in ‘n hoek waar ek ‘n lig nodig gehad het om dit te sien.” Hy het baie versigtig die lus van die vangstok om die slang se kop gekry en dit gevang.

Na die ondervinding met die Mosambiekse spoegkobra, was dit ‘n pofadder se beurt. Hy was minder gelukkig. Die Van der Waals se hond het op die slang van meer as 1m, afgekom en dié se rug afgebyt. Die slang is drie dae later dood.

‘n Paar dae later het Ben weer baie naby kennisgemaak met ‘n Mosambiekse spoegkobra. Ben en Willie van der Waal het hulle seun, Cornelis, en sy vrou in Timbavati besoek, waar Cornelis navorsing doen.

“Hulle bly in ‘n tent en toe ek my kamerasak van die bank af optel om die kamera uit te haal, sien ek ‘n slang. Dit was vyf sentimeter van my hand – weer ‘n Mosambiekse spoegkobra!” sê Ben. Hy het die slang in die kamerasak 2km verder vrygelaat.

“Slange is nie monsters nie en nie een van die spoegkobras het my gespoeg nie. Maar ek moet sê ek het altyd baie stadig beweeg naby die slange,” sê Ben.

Van der Waal sê dat mense wat dringend slange wil verwyder, welkom is om hom te skakel by 084 7385102.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines