ADVERTISEMENT:

 

Dorpswag en Sektor Misdaadforum werk nou saam

 

News  Date: 05 May 2006

 

Die Soutpansberg Dorpswag funksioneer in noue samewerking met die Sektor Misdaadforum, alhoewel die dorpswag en die forum onafhanklik van mekaar staan.

Die dorpswag het op 20 April tot stand gekom terwyl die Sektor Misdaadforum reeds ‘n geruime tyd in werking is.

“Die dorpswag is uit en uit ‘n gemeenskapsinisiatief, hoewel die eerste persoon wat jy as dorpswagleier bel, die sektorbestuurder is, wat ‘n polisiekaptein is,” sê ds. Willem Boshoff van die Soutpansberg Dorpswag. By die Sektor Misdaadforum speel die polisie self ‘n leidende rol.

Die Sektor Misdaadforum (Sector Crime Forum) was vroeër bekend as sektor polisiëring en ook as die gemeenskapspolisiëringsforum. Hulle was verantwoordelik vir die indeling van die dorp en omgewing in sektore. Buiten die drie sektore in die dorp is daar ook Sektor 4, wat Vleifontein, Munzhedzi en Maila insluit, en Sektor 5, wat Matshavhawe/Khunda, Maelula en die plaasareas bevat.

“Die Sektor Misdaadforum is steeds aktief en ons vergader elke tweede Donderdag van die maand. Lede van die publiek word hartlik uitgenooi om enige van hierdie vergaderings by te woon,” sê die woordvoerder van die Sektor Misdaadforum, me. Jana Smith. Die munisipaliteit se Departement Veiligheid en Sekuriteit het gewoonlik ‘n verteenwoordiger by die vergaderings, asook verteenwoordigers van die Departement Binnelandse Sake en die Departement Justisie. Terugvoer van hierdie vergaderings is dat baie van die deportasie frustrasies al aangespreek en uitgesorteer is.

Vele skrywes is reeds aan die munisipaliteit gerig met die oog op misdaadvoorkoming. “Ons het al saam met Supt. Sevhula ‘n besoek aan die munisipale bestuurder gebring om die probleemareas aan te spreek. Daarna is van die bosse skoongemaak maar dit moet deurlopend gedoen word,” sê me. Smith.

Die probleme wat dringend aandag moet kry en wat die Sektor Misdaadforum al herhaaldelik met die munisipaliteit opgeneem het, is:

* Die bosse tussen Rivierstraat en die N1, die Voëlpark, tussen FireFly en die industriële area, langs die padkamp, Pretoriusstraat en die pistoolklub en tussen Eltivillas en die Sibasa-pad. Lantana en sekelbos neem oor en maak dit vir die polisie onmoontlik om in hierdie gebiede in te gaan om die oortreders uit te haal.

* Daar moet dringend voorsiening gemaak word vir straatligte tussen FireFly en die industriële area en die ligte vanaf die N1 tot in die dorp vanaf die middelste kruising moet drasties verbeter word. Daar is geen straatligte vanaf Grobler- tot Pretoriusstraat en vanaf Malherbestraat tot by die begraafplaas nie. Dit maak van hierdie areas ideale wegkruipplekke.

* Daar is ‘n dringende behoefte vir beter en meer publieke toilette in die dorp.

* Sekere vervalle huise word as ‘hot spots’ geïdentifiseer en moet deur die munisipaliteit as onbewoonbaar verklaar word en bewoning moet verbied word.

Verder word daar ‘n dringende beroep op die inwoners gedoen om weerkaatsende straatnommers op die sypaadjies aan bring sodat die reaksietyd van die SAPS verkort kan word. Die Sektor Misdaadforum berig ook dat daar tans een patrollievoertuig in elke sektor vir 24 uur patrollie doen in die spesifieke sektor.

“Indien ‘n geval aangemeld word, behoort die voertuig baie vinnig op die toneel te wees. Daarom vra ons weer vir sigbare straatnommers! Inwoners kan (015) 519 4422 skakel in ‘n noodgeval. Die 10111 noodkamer is in die proses van opgradering en die noodvoertuig is reeds by die polisiestasie,” sê me. Smith.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines