

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 May 2006
Die gemeenskap van Makhado (Louis Trichardt) is vandeesweek in rou oor ‘n dinamiese en kreatiewe sakevrou en moeder, mevrou Magda Botha, wat verlede Donderdag in ‘n veelvuldige botsing tussen vier voertuie op die N1 suid van Polokwane dood is.
Mev. Botha was ten tyde van die ongeluk onderweg na Pretoria, waar sy haar by haar eggenoot, mnr. Johan Botha, sou aansluit vir ‘n vlug na ‘n vakansie in die Kaap. Die egpaar was 35 jaar getroud en het drie kinders. Mev. Botha het ‘n uitgebreide spysenieringsonderneming behartig. Sy is vandeesweek beskryf as ‘n “kunstenaar met kos”.
Die ongeluk het Donderdagmiddag tussen 13:00 en 14:00 naby Wenen Stene, sowat 1km vanaf die Mokopane-afrit, plaasgevind. Die dubbelkajuitvoertuig waarin sy gery het was in ‘n botsing skuins van voor betrokke met ‘n sedanvoertuig wat ook ‘n sleepwaentjie getrek het. Twee ander voertuie het in die twee voertuie vasgery. Mevrou Botha en twee insittendes van die sedanvoertuig is op slag dood.
Mnr. Botha het vandeesweek gesê sy gesin, wat oorweeg het om na Pretoria te verhuis, het nou, na mevrou Botha se dood, geen vaste planne nie.
“Ons sal maar later besluit. Sy was die steunpilaar en middelpunt waarom alles in ons gesin gedraai het.”
‘n Roudiens vir mev. Botha is Woensdag in die Nederduitsch Hervormde Kerk op die dorp gehou. Sy is veras.
Tannie Maria Malan en tannie Corrie Smith is ook die afgelope twee weke oorlede.
* Tannie Malan, alombekend as tannie Meraai, is op 22 April in die ouderdom van 73 jaar aan kanker oorlede.
Tannie Meraai was die afgelope paar jaar ‘n inwoner van Herfsakker en sal veral onthou word vir haar liefde teenoor die inwoners van Laat Lente en Herfsakker en haar bystand van elke siek mensie rondom haar.
Die familie het ‘n spesiale woord van dank gerig aan al die inwoners van Herfsakker en Laat Lente vir hulle oproepe, gebede, donasies en liefde.
“Sy het dit waardeer,” sê die familie.
Dank is ook uitgespreek teenoor dr. Wim de Villiers, die Kankervereniging van Makhado, ds. Willem Boshoff, dr. Philip Venter, ds. Regard Janse van Rensburg, die Gereformeerde Kerk vir die gebruik van hulle saal en elkeen wat gehelp het.
“Dankie ook aan mnr. John le Cornu van die Wheelchair Foundation vir die rolstoel wat aan haar beskikbaar gestel is.”
* Die alombeminde tannie Corrie, wat hawelose mense met groot liefde versorg het, is Sondag, 30 April, in die ouderdom van 89 jaar oorlede.
Tannie Corrie sal onthou word as ‘n aardse engel in wie se losieshuis in Cronjéstraat altyd nog ‘n plekkie gevind kon word vir ‘n hawelose.
“Sy het nie geskroom om mense in te neem wat psigiatriese probleme het of wat niemand anders wil inneem nie,” sê mev. Retha Serfontein wat as maatskaplike werker baie deur tannie Corrie uitgehelp is.
Sy het die losieshuis bedryf tot op 88-jarige ouderdom en kon dit nie oor haar hart kry om met die losieshuis op te hou, voordat elkeen ‘n ander heenkome gehad het nie. Tannie Corrie is die afgelope 13 maande deur haar dogter en skoonseun, Elize en Fred Fourie, in Presidentstraat versorg. Sy is aan ‘n hartaanval oorlede in die arms van haar dogter.
“Dit was ‘n groot skok. Sy was nie eers siek nie. Sy het twee komiese DVD’s gekyk, geëet en toe het ek haar in die bed gaan sit. Sy het gevra dat ek vir haar ‘n kerkdiens op ‘n bandjie speel. Sy het gesê die diens was mooi, maar ‘n bietjie lank,” sê Elize. Dit was kort daarna dat sy asemnood ontwikkel het en dit was gou verby.
“Sy was ‘n merkwaardige vrou, ‘n ma en ‘n ouma duisend. Sy het ook hierdie jaar nog gaan stem. Sy was ‘n Afrikaner in murg en been en het so baie vir arm mense gedoen. Haar geloof was baie groot. Sy het enige drankverslaafde van die straat af opgetel en hom versorg,” sê haar dogter.
Mev. Gezina Cornelia Smith, wat op Kersdag 1916 gebore is, word Vrydag, 5 Mei, om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt begrawe. Die diens word waargeneem deur ds. Hans Grobler. Sy laat een dogter, drie kleindogters, sewe agterkleinkinders en drie agter-agterkleinkinders na.

ADVERTISEMENT:
