ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Dirk van den Berg (51). Foto verskaf.

Week van hartseer

 

Die afgelope week was beslis ‘n swart tydperk vir die Soutpansberg, met verskeie inwoners wat geliefdes aan die dood moes afstaan. Onder hulle is die Van den Berg-gesin van Louis Trichardt wie ‘n eggenoot en pa, die 51-jarige mnr. Dirk van den Berg, verloor het na ‘n motorongeluk Saterdagaand op die N4 naby Uitkyk buite Nelspruit.

Dirk het die aand saam met ‘n vriend van hom gaan uiteet by ‘n restaurant en was onderweg terug na die losieshuis waar beide van hulle gebly het, toe die ongeluk plaasgevind het.

Die pad was baie nat weens reën en die vriend het in ‘n skerp draai beheer verloor van die bakkie waarin hulle op reis was. Die bakkie het sywaarts begin gly en op spoed met die passasierskant, waar Dirk gesit het, teen ‘n rotsbank gebots. Dirk se vriend is lig beseer en kon vinnig afgevoer word na die Rob Ferreira Hospitaal. Dirk was egter minder gelukkig en moes uit die karwrak gesny word. Hy kon eers heelwat later vanaf die toneel met uiters kritieke beserings na dieselfde hospitaal geneem word vir dringende mediese behandeling.

“Dirk het die volle impak van die botsing gevat,” het ‘n bewoë eggenote Dirkje Woensdagoggend aan die Zoutpansberger gesê. Sy en kinders Dirkie en Geraldine het eers Dinsdagaand vanaf Nelspruit teruggekeer waar hulle die laaste paar dae probeer het om presies uit te vind wat gebeur het.

“Net na 05:00 Sondagoggend het die dokter my geskakel en gesê Dirk was in ‘n ongeluk en ek moet dadelik deurkom,” het Dirkje gesê. Net daar het Dirkje in haar motor gespring en Nelspruit toe begin ry. “Ek was skaars by Hoedspruit, toe bel die dokter weer en sê vir my ek moet aftrek van die pad want hy wil met my praat … Toe weet ek…” het Dirkje gesê, met die trane wat opnuut in haar oë opwel.

Dit was net voor 10:00 en Dirkje het dadelik haar kinders geskakel met die nuus dat hul pa weens die ernstige aard van sy besering beswyk het. “Hulle het deur die nag met hom gestoei. Sy beserings was net te erg. Beide sy bene, een arm, ribbes en sy rug was gebreek,” het Dirkje gesê. Terwyl medici met Dirk geworstel het, het hy herhaaldelik sy bewussyn herwin en weer verloor. “Die dokter het vir ons gesê hy was in baie, baie pyn,” het Dirkie gesê.

Die Van den Berg-gesin het in 1993 vanaf die destydse Koraal Lugmagbasis buite Pietersburg na vandag se LMB Makhado verhuis. Hier het Dirk tot in 2006 diens gedoen in die lugmagpolisie. Sy passie vir sport het hom egter betrokke gekry by verskeie sportkomitees waardeur hy die afgelope 20 jaar plus verskeie hegte vriendskapsbande gebou het. Dirk was mal oor krieket en het onder meer as speler, voorsitter en komiteelid van die basis se krieketklub gedien. Hy was ook die lugmag se verteenwoordiger op die Louis Trichardt Krieketklub se bestuur. Nie net was hy ‘n kranige krieketspeler nie, maar hy het ook ‘n passie vir hengel gehad. So was hy dan ook voorsitter en komiteelid van die basis se Flurian Hengelklub, asook stigterlid van die Hanglip Hengelklub in Louis Trichardt.

Nadat hy uit diens van die lugmag getree het, het hy hom toegespits op die plaaslike sekuriteitsbedryf, onder meer saam met wyle Johan Jooste en sy broer, Pieter Jooste, by Executive Protection. “Hy het vir ‘n kort tydjie Andy’s Brandies besit, maar sy hele lewe was hy maar in die sekuriteitsbedryf,” het Dirkje gesê.

Dirk se kennis van die sekuriteitsbedryf en bereidwilligheid om te werk het hom die laaste paar jaar ver van die huis geneem, aangesien werksgeleenthede plaaslik maar skraal was. Vir bykans ses jaar het hy sekuriteits- en ondersoekwerk gedoen vir die Australiese mynmaatskappy Extrada. Daarna het hy dieselfde werk gedoen vir die Omega-myngroep, maar nadat die myn verkoop is, het hy sy werk verloor. Dit was vir hom ‘n trotse dag toe hy sowat twee-en-‘n-half maande gelede weer op Nelspruit werk gekry het, ook in die sekuriteits- en privaatondersoek bedryf. “Hy was ‘n trotse mens en die 11 maande wat hy sonder werk was, het hom verskriklik gepla. Vir sewe jaar het ek my man net een maal ‘n maand gesien. Sy werk het hom nou weer weggevat van ons af, maar dit wys net dat hy bereid was om alles op te offer om vir my en die kinders te sorg,” het Dirkje gesê.

Dirk se afsterwe laat ‘n groot leemte in die lewens van die mense wie hy op sy nederige wyse aangeraak het. Vir die familie is pa Dirk se dood steeds ‘n onwerklikheid. “Sy dood was voortydig, maar ek het vir die kinders gesê dat hy dit nie sou maak in ‘n rolstoel nie. Dit sou hom doodgemaak het,” het Dirkje gesê.

‘n Roudiens vir wyle Dirk vind eerskomende Sondag, 21 Mei, om 11:30 vanuit die AGS-gemeente in Louis Trichardt plaas. “My pa was my grootste held, iemand op wie ek baie trots was. Hy het by my ‘n liefde vir sport gekweek. Ons het soveel goeie herinneringe van hom. Hy was voorwaar ons rots gewees,” het Dirkie gesê.

News - Date: 22 May 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: